‘n Grondwaarde-generaal is een van die voorstelle van mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, om probleme oor grondpryse aan te spreek.
Die Minister het tydens ‘n vraesessie in die Parlement gesê hy wil só ‘n generaal aanstel om seker te maak norme en standaarde rakende grondpryse word neergepen.
Nkwinti het in ‘n antwoord op ‘n vraag van me. Annette Steyn van die Demokratiese Alliansie gesê dié voorstel sal binnekort voorgelê word. Sy het aan hom gevra watter metodes gebruik is om vas te stel dat die gewillige koper/verkoper beginsel nie werk nie.
“Dit is hoekom ons ‘n situasie in die land het waar die grootste meerderheid van ons mense nie hulle eie grond besit nie. Hul Regering kan nie toegang tot grond kry nie weens pryse wat deur waardeerders aangepas word, waaroor geen beheer bestaan nie.” Dit is hoe Nkwinti ‘n redelike vurige antwoord aan Steyn afgesluit het.
Sal dit werk?
Steyn meen geen stappe gaan werk om die grondhervormingsproses te bespoedig as ‘n volledige grondoudit nie gedoen is nie. “Ons grootste krisis nou is om eers ‘n grondoudit te kry. Myns insiens is enige iets anders eers onnodig. Sonder ‘n grondoudit kan niks van die ander probleme rakende grondhevorming behoorlik aangespreek word nie,” vertel Steyn.
Die Minister het opgemerk dat taakspanne in elke provinsie tans werk aan ‘n opname om bv. vas te stel hoeveel grond reeds oorgedra is. Dié resultate sal volgens Nkwinti na verwagting binne die volgende twee maande beskikbaar te wees.
Verskeie vrae rondom grondhervorming, en hoekom die departement nie weet presies hoeveel grond al oorgedra is nie, is ook aan Nkwinti gevra. Kliek hier en lees die vraag- en antwoord dokument uit die Parlement.
15 November 2010