Die Grondwet sal aangepas moet word om die ongrondwetlikheid van die voorgestelde grondwaardeerder-generaal en Kommissie vir die Bestuur van Grond (LMC) in die groenskrif oor grondhervorming uit te skakel.
Mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, het vir die eerste keer sedert die groenskrif oor grondhervorming in die Staatskoerant gepubliseer is, voor die Parlement se portefeuljekomitee wat hiermee belas is, verskyn.
LP’s van die verskillende politieke partye wat in die portefeuljekomitee vir landelike ontwikkeling en grondhervorming dien, het menige vrae vir Nkwinti en sy departement gehad. Dit was onder meer wat die beweegrede was vir die viervlakstelsel vir grondbesit en die instel van drie instellings om grond te bestuur, redes vir die regulasies vir grondeienaarskap vir buitelanders, of die departement weet hoeveel grond die Staat besit en die grondwetlikheid van die grondwaardeerder-generaal en die LMC.
As gemeenskap vasbrand
Nkwinti het gesê dat die aspekte van die groenskrif wat grens aan ongrondwetlikheid, gehanteer sal word. “Die Grondwet is geskep om die samelewing in ‘n sekere rigting te help. Wanneer die gemeenskap vasbrand moet hy die moed het om die Grondwet te hersien en indien nodig aan te pas.
“Dit is wat ons sal doen as daar aspekte van die groenskrif is wat grens aan ongrondwetlikheid.” Nkwinti het aangedui dat die Kabinet gevra sal word om die proses te dryf om die Grondwet aangepas te kry om die groenskrif se doelwit te bereik.
Die Kabinet sal ook gevra word om aansoeke vir restitusie te heropen en dat eise tot voor 1913 moet strek.
Me. Lindiwe Mazibuko, DA-LP, het na die tyd gesê dat die voorgestelde groenskrif geen visie bied van hoe die ongelykhede wat apartheid meegebring het volhoubaar opgelos kan word nie en dat ‘n beter dokument uitgebring moet word wat in lyn met die Grondwet is.
Bedrieglike wyse
Mnr. Sunday Ogunronbi, hoof van beleidsnavorsing en wetgewingontwikkeling van die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, het aangevoer dat die LMC en die grondwaardeerder-generaal gebruik kan word in gevalle waar staatsgrond op bedrieglike wyse bekom is. “Daar is gevalle van bedrog wat in die aktekantoor voor 1994 plaasgevind het.”
Hy het aangedui dat heelwat grond in die voormalige tuislande aan private persone oorgedra was toe die land in ‘n oorgangsfase was.
Die land benodig ook ‘n grondwaardeerder-generaal om stabiliteit in die grondmark te bring. Hy het verder aangedui dat Suid-Afrika een van die min lande is wat nie regulasies oor buitelandse eienaarskap het nie.
Mnr. Mdu Shabane, direkteur-generaal van die Departement vir Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, het bygevoeg dat die voormalige Minister van Grondsake, me. Thoko Didiza, ‘n paneel van kenners op die been gebring het wat buitelandse grondeienaarskap ondersoek het en dat die departement die bevindinge hiervan gebruik in sy beleid oor eienaarskap vir buitelanders.
Hy het ook uitgewys dat Suid-Afrika uit 123 miljoen ha bestaan, waarvan 83 miljoen hektaar private landbougrond is en sowat 30 miljoen ha deur die Staat besit word.
Die departement weet egter nie waar al dié staatsgrond geleë is nie, maar is doodseker dat die Staat nie die helfte van die land se grond besit nie.
21 September 2011