
Dié belangrike saak vir die landbou is ook al in die hooggeregshof in Pretoria en die appèlhof in Bloemfontein aangehoor. Eersgenoemde het téén oordrag en verhandeling beslis en laasgenoemde het die hooggeregshof se besluit tersyde gestel.
Die partye het vooraf hofstukke ingedien en kon gister kortliks hul saak stel waarna die regters vrae aan hulle gestel het.
Adv. William Ramawela, namens die departement van water en sanitasie, het betoog dat die Nasionale Waterwet (Wet 36 van 1998) in artikel 25 (1) nie na oordrag van waterregte na derde partye verwys nie en dat waterregte aan die staat opgegee moet word wanneer ’n boer dit nie meer wil gebruik nie.
Dit is sodat die staat dié regte kan gebruik om transformasie in die watersektor te bewerkstellig.
Adv. Marius Oosthuizen, namens die Suid-Afrikaanse vereniging van watergebruikersverenigings (Saafwua), het betoog dat dit wel die bedoeling van die wet is dat oordragte kan plaasvind en dat ’n boer nie die waterhulpbron verkoop nie, maar sy reg tot die water. ’n Boer meng dus nie in by die staat se rol as bewaarder van water nie. Enige oordrag kan ook net geskied met die toestemming van die betrokke waterbestuursinstelling.
Van die regters het vrae gevra oor of boere vergoed moet kan word indien hulle hul waterreg aan ’n ander persoon oodra.
Adv. Gerrit Grobler, namens die boerepartye wie se aansoeke om oordrag van regte deur die departement afgekeur is, het betoog dat waterregte baie werd is. Grond met waterregte is baie meer werd as daarsonder. ’n Boer wat ’n waterreg aan iemand anders oordra, ontvang dus vergoeding omdat hy vergoed word vir dié waarde wat hy verloor.
Mnr. Janse Rabie, regs- en beleidsbestuurder by Agri SA, sê in ’n verklaring die vermoë om watergebruiksregte oor te dra, is noodsaaklik, veral vir besproeiingsboere. “Die Grondwethof se verhoor is van groot belang vir die landbou, aangesien watergebruikregte ’n belangrike bate vir boere is.” Daarom het Agri SA twee van die boere se regskoste uit sy Vrywillige Waterfonds finansier.