
Mnr. Danie Bosman, ’n wêreldbekende en gerespekteerde veekundige, is Saterdag, 15 Januarie, op die ouderdom van 84 jaar oorlede.
Sy vrou, Elsa, sê die egpaar het covid-19 opgedoen en hy het boonop ook longontsteking gekry. Volgens haar het sy toestand mooi verbeter, maar Donderdag (13 Januarie) is ’n kankergewas ontdek wat begin bloei het. Hy was toe al ’n week in die hoësorgeenheid en was te swak vir ’n operasie. “Dit het sy lewe gekos. Ek is net dankbaar dat dit vinnig verby was,” sê sy. “Hy het nooit van pyn gekla nie en die Here het hom baie lyding gespaar.”
Vir sy oudkollegas en betrokkenes in die beesbedryf is Bosman se heengaan ’n groot boom wat geval het.
Volgens mnr. Leslie Bergh van die Landbounavorsingsraad (LNR) was oom Danie, soos sy kollegas hom genoem het, jare lank tot met sy aftrede die hoof van die nasionale vleisbeesprestasietoetsskema van die Navorsingsinstituut vir Vee- en Suiwelkunde (NIVS), later die Diereproduksie-instituut, op Irene. “Hy was jare lank my mentor en ek het baie by hom geleer. Hy was ’n wonderlike, sagmoedige mens wat ’n pragtige voorbeeld gestel het hoe om jou Christenskap uit te leef,” sê Bergh.
Wyle dr. Jan Hofmeyr, eertydse direkteur van die NIVS, het vroeër in sy huldeblyk aan Bosman tydens die 50-jarige viering van die Bonsmara-ras gesê hy het wel nie die Bonsmara ontwikkel nie, maar Bosman en sy personeel het ’n leidende rol gespeel in die bevordering van die ras met ’n lewensvatbare genetiese poel. Bosman was ’n tydgenoot en medewerker van prof. Jan Bonsma, wat die Bonsmara ontwikkel het.
Bosman was sedert sy aftrede by Irene in April 2000 die beskermheer van die Bonsmara. Hy was betrokke by die seleksie van embrio’s vir die eerste 60 Bonsmara-koeie vir die ontwikkeling van die Montana-ras in Brasilië. Hy het ook die Bonsmara-stelsel in die buiteland tydens lesings en praktiese demonstrasies bevorder.
Hy word oorleef deur sy vrou, drie kinders en hul gesinne.