
Suid-Afrika is ’n lid van die Verenigde Nasies se konvensie oor klimaatsverandering en die Parys-ooreenkoms. Die presidensiële klimaatkommissie is gestig om die oorgang na ’n laekoolstof- en klimaatbestaande ekonomie te koördineer.
Mnr. Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA, sê in ’n verklaring die kommissie speel ’n sentrale rol in Suid-Afrika om die uitwerking en oorsake van klimaatsverandering te versag.
Volgens van der Rheede is die landbousektor onder die groepe wat die meeste deur klimaatsverandering geraak word en is die aanstelling van Rabie ’n baie belangrike stap om kwessies doeltreffend aan te pak.
Die aanstelling van Rabie het ook gekom terwyl die Verenigde Nasies se 27ste konvensie oor klimaatsverandering, COP27, vandeesweek in Egipte gehou word.
Benewens sy rol as regs- en beleidshoof by Agri SA is Rabie ook die organisasie se hoof van natuurlike hulpbronne. Rabie, ’n prokureur, het ’n meestersgraad in mariene en omgewingsreg aan die Universiteit van Kaapstad verwerf. Sedert hy in 2017 by Agri SA aangesluit het, was hy daartoe verbind om die belangrikheid van die landbousektor se verhouding, en die afhanklikheid van die natuurlike omgewing daarvan, te verhoog.
“Niemand woon nader aan, maak meer staat op of word meer geraak deur die klimaat en die natuurlike omgewing as boere nie. Ek sien daarna uit om die perspektiewe en ervaring van Agri SA en die landbousektor te bring na die belangrike werk wat deur die presidensiële klimaatkommissie verrig word,” sê Rabie.
Vir Agri SA was dit noodsaaklik dat meer verteenwoordigers uit die landbousektor in die kommissie aangestel word om te verseker dat Suid-Afrika, deur sy holistiese benadering, die oorgang sal meemaak en nuwe geleenthede vir jong Suid-Afrikaners in alle sektore van die ekonomie kan skep, sê Van der Rheede.
“Die landbousektor is onlosmaaklik verbind met die natuurlike omgewing en word ongetwyfeld beïnvloed deur klimaatsonbestendigheid en verandering. Daar is aansienlike werk aan die gang om die oorsake en gevolge van klimaatsverandering aan te pak. Dit sluit ook gesprekke rondom die huidige wetsontwerp op klimaatsverandering, wat tans deur die parlement beweeg, in.
“Suid-Afrika is in die proses om ’n samehangende en doeltreffende reaksie op die wêreldwye bedreiging te formuleer en die landbousektor moet ’n integrale rol daarin speel.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.