
Gert Nel van die Germar Bonsmara-stoetery by Bloemfontein is op die genootskap se jaarvergadering as lewenslange erepresident van Bonsmara SA aangewys. Die voorstel is eenparig aanvaar.
Nel, ’n afgetrede rekenmeester wat saam met sy seun, Gerhard, hul stoetkudde bedryf, het diep spore in die genootskap getrap. Hy het sedert 16 Maart 2005 in die Bonsmara-raad gedien. In sy 18 jaar as Bonsmara SA-raadslid het hy vier jaar as vise-president en vier jaar as president gedien. Hy het die genootskap se finansies en etiek-aangeleenthede behartig.
Volgens Louis Steyl, uitvoerende hoof van Bonsmara SA, is die manier waarop Nel die genootskap se finansiële posisie verbeter het, merkwaardig. “Die leiding en skakeling wat hy het met die kantoor in Bloemfontein rakende personeel en etiese kwessies gegee het, het hom ’n waardevolle bate vir die raad gemaak. Bonsmara SA sien uit na sy voortgesette betrokkenheid in ’n raadgewende hoedanigheid.”
Nel het sy dank betuig aan die telers vir die verantwoordelikheid wat aan hom toevertrou word. “Ek wil telers verseker dat ek die ras na die beste van my vermoë sal bedien en altyd sal verseker dat die volhoubaarheid van die ras en genootskap beskerm word.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.