Een van die Wes-Kaap se landboulegendes is in Desember oorlede.
Prof. Eddie Laubscher, oftewel “prof. Eddie” soos almal hom genoem het, was ‘n voorste navorser, dosent, mentor en ‘n mens wat dit sy lewenstaak gemaak het om koringgehalte te verbeter en die kleingraanbedryf in die Wes-Kaap te bevorder.
Verskeie van sy oudstudente wat Landbouweekblad om kommentaar genader het, het hom ook vir sy menslikheid geloof.
Laubscher, wat aan die Weskus grootgeword en aan die Hoërskool Vredenburg gematrikuleer het, het in 1959 sy doktorsgraad in plantfisiologie aan die Universiteit van Kalifornië verwerf. Hy het in 1960 na Suid-Afrika teruggekeer waar hy as senior vakkundige beampte by die destydse Landboutegniese dienste op die proefplaas Welgevallen, buite Stellenbosch, aangestel is.
Hy is in 1965 as professor in akkerbou en weiding by die Universiteit Stellenbosch (US) aangestel. Na sy aftrede in 1988 was hy hoof van die Sentrum vir Wintergraannavorsing van die departement van akkerbou en weiding aan die US.
Laubscher was een van die stigters van die Kaapse Kleingraan-ontwikkelingsvereniging en die Vereniging vir Groente onder Beskerming, wat deesdae as Intensive Agriculture South Africa bekend staan.
Landbouskrywers SA het in 1978 die toekenning Landboukundige van die Jaar aan hom gemaak. In 1993 is hy deur drie landboukoöperasies op Malmesbury, Moorreesburg en Porterville as “Koringman van die Jaar” aangewys uit erkenning vir sy jarelange bydrae tot vooruitgang in die koringbedryf.
Voormalige studente van “prof. Eddie”, wat die skrywer van dié berig insluit, onthou hom ook as iemand wat daarop gesteld was dat sy studente blootstelling kry aan die hele graanbedryf, maar nooit vergeet het dat landboustudente ‘n joviale lot is nie.
Besoeke aan die graansilo’s by Klipheuwel, Boeresake (‘n maatskappy wat trekkers en werktuie verkoop het), ‘n kunsmismaatskappy, boeredae, SAB se bierbrouery in Nuweland en ‘n bakkery iewers in die industriële hart van Kaapstad, maar veral die gemoedelike sosiale verkeer daarna, word met deernis onthou.
Laubscher, wat in die ouderdom van 87 jaar oorlede is, laat sy vrou, Maxie, twee dogters en vier kleinkinders agter.
5 Januarie 2011