Groot kommer heers oor die droogte in die sentrale dele van die land en die gevolglike gebrekkige weiding.
Mnr. André Ferreira, voorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) in die Vrystaat, sê regoor die provinsie heers droogtetoestande. “Dit is baie droog en die situasie is kritiek, veral omdat temperature klaar begin daal het en weidingstoestande derhalwe nie baie gaan verbeter voor of gedurende die winter nie.”
Hy sê die goeie mieliepryse veroorsaak dat voer ook baie duur geword het. Dit noop baie boere om hul diere te verkoop om geslag te word. “Die pryse van vee kom weekliks af, en dit kan gedeeltelik toegeskryf word aan meer vleis wat weens die slag van dié diere beskikbaar is.”
Ferreira sê hulle moedig boere aan om van hul onproduktiewe diere ontslae te raak.
Hamer en aambeeld
Boere wat genoodsaak is om hul vee te verkoop, bevind hulle wel tussen die spreekwoordelike hamer en aambeeld. Ferreira sê enige boer wil sy vee teen die bes moontlike prys verkoop, maar die verlagings in pryse aan boere is soms buitensporig.
Die prys van speenkalwers het van November verlede jaar van R18,50 per kilogram tot sowat R15,00 per kilogram verminder. Dié pryse word ongeluukig nie aan die verbruiker deurgegee nie, en die RPO probeer druk op die bedryf plaas om seker te maak dat dit wel die geval is.
“Van die boere moet van hul vee verkoop, maar die pryse is eenvoudig te swak, jy kan nie teen sulke pryse verkoop nie. Daar is selfs sprake van minder as R14,00 per kilogram. Dit is belaglik. Wat maak ’n mens dan?” vra Ferreira.
Hy sê baie boere is ook bekommerd oor watervoorsiening tydens die komende winter. “In Heilbron is daar al boere wat probleme begin kry het met grondwater wat begin opdroog het en hulle moet al water laat aanry.”
Simpatie
Intussen sê mnr. Cor van Vuuren, voorsitter van Agri Noordwes, saaiboere het tans baie simpatie met veeboere. Hy sê hoewel droogtetoestande die saaiboere ook bloots ry, dui die meeste van hulle aan dat hulle wel tussen 60% en 70% van hul oeste sal kan insamel. “’n Klomp boere het klaar groot probleme.”
Van Vuuren sê die afgelope seisoen is en was vir menige boer ’n baie moelike een. “Ek kry ’n gemiddelde van 550mm reën op my plaas in hierdie tyd van die jaar, en ek het dié seisoen nog net 240mm gemeet.”
30 Maart 2012