
Pres. Cyril Ramaphosa het die Wysigingswet op die Regulering van die Private Sekuriteitsbedryf (Wet no. 18 van 2014) onderteken. Dit beteken dat Suid-Afrikaanse burgers ten minste 51% van die eienaarskap en beheer van ’n private sekuriteitsmaatskappy moet hê.
Baie boere word genoop om private veiligheidsmaatskappye te gebruik om hulself en hul bates teen misdaad te beveilig. Daar is kommer dat die beperking van buitelandse aandeelhouding in private sekuriteitsmaatskappye tot ’n maksimum van 49% ’n ongunstige impak op die landbou kan hê, veral ten opsigte van plaasmoorde en ander landelike misdaad.
“Dit gaan die effek hê dat boere heeltemal gaan ophou boer, wat die land in hongersnood gaan dompel. Dit kan tot grootskeepse onstabiliteit of selfs ’n opstand kan lei onder die menigte. Veral die ondergang van die landbou in die Vrystaat, wat as die kosmandjie van baie basiese kossoorte beskou word, sal beslis ‘n impak hê op die nasionale ekonomie,” sê Buys.
Geen logika
Volgens dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, is die ondertekening van dié wet ondeurdag en kan dit die bedryf groot skade aandoen. Hy sê in ’n tyd waar werkloosheid in Suid-Afrika van die hoogste in die wêreld is en misdaad gedy weens gebrekkige polisie-optrede, is daar geen logika dat die president die wet onderteken het nie. Dit dien as bewys dat hy nie begrip het vir die werklike misdaadsituasie in Suid-Afrika nie.
Dit is die gewone burger wat nie omring is met lyfwagte nie wie se veiligheid bedreig word. In Suid-Afrika is daar sowat drie sekuriteitswagte vir elke polisielid weens die feit dat die ANC-regering nie sy grondwetlike plig nakom om die publiek te beskerm teen misdadigers nie. Die publiek moet daarom dubbel betaal vir hul veiligheid.
Groenewald sê daar is gevestigde belange van maatskappye op die spel. Hierdie wysiging gaan waarskynlik deur belanghebbendes in die Grondwethof getoets word.
Onteien
Volgens die DA het Ramaphosa met die ondertekening van die wysigingswet buitelandse beleggers doeltreffend onteien deur hul maatskappye daarvan te ontneem om sake in Suid-Afrika te doen as hulle nie hul meerderheidsaandeel daarin verkoop nie.
Mnr. Geordin Hill-Lewis, die DA se burgermeesterskandidaat vir die Stad Kaapstad, sê die ergste is dat subartikel 20(2)(e) genl. Bheki Cele, minister van polisie, die mag gee om eensydig die eienaarskapaandeel te verander wat sekuriteitsmaatskappye moet hê om sake in die land te doen. Volgens hom kom die ondertekening van die wysigingswetsontwerp neer op ’n aanval op die regte van Suid-Afrikaners om hul gesinne en gemeenskappe van misdaad te beskerm, veral omdat die polisiediens ineengestort het.
Die party sê meer as 550 000 Suid-Afrikaners werk in die private sekuriteitsbedryf. Dit is vier keer meer as die 145 000 polisiebeamptes wat by die Suid-Afrikaanse Polisiediens werksaam is.