
Mnr. Espie (SP) Ferreira is op Vrydag 25 Junie oorlede nadat sy vrou, Hilda (albei was 88), die vorige Maandag gesterf het. Die egpaar is albei weens Covid-19 oorlede. Hulle was 62 jaar lank getroud.
Volgens sy enigste broer, mnr. Dawfred Ferreira, was rugby ’n groot liefde van Espie en deel van sy lewe, maar hy was net so passievol oor sy plaas en lemoene.
“Hy het sy lemoene geken en het dit graag uitgedeel. Hy het hard gewerk, was baie doelgerig en ambisieus, en het nie maklik moed opgegee nie. SP was ’n goeie sakeman, uitstekende boer en baie gesteld op netheid.”
Espie het in 1953 die sitrusboerdery Endulini Fruit tot stand gebring op grond wat hy van sy pa geërf het, waarna sy seuns, Pietie, en later Eppie (wat in 2013 oorlede is) in die vroeë 1990’s by die boerdery aangesluit het. Die boerdery, wat deesdae verpakkingsaanlegte, koue-opbergeenhede, vervoer en ’n beesafdeling insluit, is vandag een van die grootste boerderye in die Gamtoosvallei, met produksie-eenhede in die Sondagsriviervallei.
Mnr. Henk Agenbach, uitvoerende hoof van Die Kooperasiegroep, bestempel Ferreira as ’n beminde mens.
“Dit was vir ons landbougemeenskap ’n groot skok om te verneem van die afsterwe van oom Espie en tannie Hilda. Hy was ’n groot stem in die sitrusbedryf en ’n jare lange lid van Die Kooperasie.”
Volgens Agenbach is Ferreira, as direkteur van Endulini Fruit, geken as ’n regverdige mens wat die belange van medeboere en sy gemeenskap sterk op die hart gedra het.
“Hy was ’n bekende figuur by die Patensie-handelstak waarheen tannie Hilda hom gereeld vergesel het. Oom Espie het altyd tyd gemaak vir ’n grappie.”
Hy voeg by dat hulle veral omgegee het vir die omgewing en gehelp het om die geboue rondom die tak met plante te versier. Hulle het ook hul deel gedoen vir die voorkoms van die perseel, sowel as die dorp.
“Hulle was ongelooflik gerespekteer en hul afsterwe laat ’n groot leemte in die Gamtoosvallei, maar ook in Suid-Afrika.”
Die egpaar laat vyf kinders, 12 kleinkinders en 2 agterkleinkinders agter.