
Dr. Johan van Rooyen, ’n spesialis-veearts by die Grootfontein Landbou-ontwikkelingsinstituut (GLOI), keer op 23 Januarie terug werk toe ná ’n skorsing van ses maande en ’n brutale dissiplinêre proses waarteen hy tans appèlleer.
Van Rooyen is in Julie 2016 geskors en beveel om die kollege te verlaat hangende verskeie dissiplinêre klagtes teen hom. Hy is vir die duur van sy skorsing verbied om enige werk te doen, wat konsternasie veroorsaak het in die boerderygemeenskap wat hy bedien.
Hy is intussen skuldig bevind aan vyf klagtes en drie geskrewe waarskuwings opgelê. Sy posvlak is ook verlaag, ofskoon dit nie duidelik is wat sy nuwe pos sou wees nie.
“Dit was ’n besonder frustrerende en moeilike tyd,” sê Van Rooyen, wat nege vakke per semester aanbied en broodnodige werk as staatsveearts in die Oos-Kaap doen. Sy skorsing hou skynbaar verband met ’n magstryd tussen die PSA-vakbond (Public Servants Association) en Nehawu op Grootfontei. Van Rooyen is die voorsitter van die PSA-vakbond daar, en dié vakbondlede bestuur ’n groot deel van Grootfontein se akademiese program.
Ondersoek
Van Rooyen is deels geskors omdat hy op 19 Julie lede van die PSA-vakbond aangesê het om hul samewerking te weerhou van ’n taakspan van die nasionale Departement Landbou, Bosbou en Visserye (DAFF) wat die bestuur van trustfondse wat van Grootfontein se kuddes besit, ondersoek het.
Hy het aan Landbouweekblad aangedui dat hy geen probleem met die ondersoek gehad het nie, maar dat hy PSA-lede afgeraai het om deel te neem omdat hy nie die voorwaardes van die ondersoek ontvang het nie.
Ná hy egter die voorwaardes ontvang het, het hy aan PSA-lede gesê om wel hul samewerking te gee. Hy is hierna daarvan aangekla dat hy verkeerde inligting aan lede van die vakbond verskaf het.
Skuldigbevinding
Hy is skuldig bevind daaraan dat hy beweer het die DAFF se personeelhoof, me. Mmapitso Mashele, is partydig jeens Nehawu-lede; ’n sekretaris van Nehawu by Grootfontein, mnr. Philemon Ngala, ná sy skorsing gevra het of hy ‘nou gelukkig is’ en verskeie mense by DAFF gekontak het sonder toestemming van die departement se korporatiewe hoof en direkteur-generaal.
Hy is ook daarvan skuldig bevind dat hy privaat werk sonder toestemming gedoen het.
Van Rooyen mag in hierdie stadium nie verder kommentaar lewer nie, omdat hy aan die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, mnr. Senzeni Zokwana, appèl aangeteken het teen die bevinding. Zokwana moet teen 23 Januarie hierop reageer. Van Rooyen het ook appèl aangeteken teen sy “onwettige skorsing” by die Staatsdiens-Bemiddelingsraad [Public Service Bargaining Council].
Mnr. Doug Stern, Agri Oos-Kaap se president, is verontrus oor die situasie en probeer dit deur die regte kanale aanspreek.
“Ons studente by Grootfontein, sowel as die groter landbougemeenskap, word negatief hierdeur beïnvloed. Die proses, klagte en straf alleen is genoeg rede om ’n ondersoek te regverdig oor wat by Grootfontein en DAFF aangaan. Dit is onaanvaarbaar dat ’n dosent en staatsveearts op so ’n manier buite aksie was.”