
Op Vrydag, 22 Julie, is dr. Johan van Rooyen, 'n veterinêre spesialispraktisyn by Grootfontein Landbou-ontwikkelingsinstituut (GLOI) uit 'n personeelvergadering geroep en deur die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye (DAFF) geskors. Die personeel en studente het opdrag ontvang om nie met hom te praat nie en hy is aangesê om die kollege te verlaat, na bewering met fisiese geweld teen hom in sy kantoor. Hy het sedertdien nie teruggekeer nie.
Van Rooyen, wat ook voorsitter is van die PSA-vakbond (Public Servants Association) wat 90% van die akademiese program bestuur, is met 'n skorsingbrief bedien, onderteken deur mnr. Sipho Ntombela, adjunk-direkteur-generaal: korporatiewe dienste by die DAAF in Pretoria. Die direkteur van werknemerverhoudinge, me. Mmapitso Mashele van die DAFF het die skorsing bekragtig. Grootfontein val onder die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye.
Grootfontein se direkteur, mnr. Tino Herselman, het bevestig dat Van Rooyen bedien is met 'n voorkomende skorsingsbrief. Hy sê 'n taakspan van die DAFF se hoofkantoor is besig met 'n ondersoek rondom die skorsing, maar hy weet nie wat die besonderhede is nie. "My portefeulje dek die akademiese program en ek wil hê dat die aangeleentheid so gou moontlik afgehandel moet word, aangesien ons 'n tekort aan lektore het", sê hy.
Bied nege vakke per semester aan
Van Rooyen bied nege vakke per semester aan, insluitende sleutelvakke, soos diereteelt en genetika, behalwe sy uiters belangrike veeartsverpligtinge in die gemeenskap as staatsveearts. Dr. van Rooyen word gereeld aangehaal in artikels in landboutydskrifte, is 'n gereelde spreker op boeredae en neem deel aan verskeie bedryfsforums. Hy is 'n aktiewe bydraer tot die landelike gemeenskap se aanlyn-veeartsforums en die aanmelddiens van veesiektes vir die Herkouerveterinêre Vereniging van SA (RuVASA). Ingevolge die voorwaardes van sy skorsing mag hy nie enige van sy pligte uitvoer of 'n bydrae tot enige van bogenoemde lewer nie.
Met die ter perse gaan kon die DAFF nie bereik word vir kommentaar oor die rede vir die skorsing nie.
Na berigte is beweringe die afgelope paar jare deur die National Education, Health and Allied Workers Union (Nehawu) gemaak oor korrupsie, bevraagbare prosesse en die aanhou van privaat diere op die kollege se plaas. Die persone verantwoordelik vir die troppe en kuddes op Grootfontein is almal lede van die PSA. Nehawu en die PSA is die twee vakbonde op Grootfontein.
Vir praktiese opleiding
PSA-lede sê die troppe en sommige van die kuddes is nie regeringseiendom nie, maar word besit en bestuur deur trusts. Verskeie telersverenigings het diere aan hierdie trusts gegee om praktiese opleiding vir die studente te verseker. Een van hierdie troppe, die Angora-miniplaas, wen gereeld kompetisies en word as een van die top-stoeterye beskou.
'n Senior landbouwetenskaplike en sekretaris van dié Nehawu-tak, mnr. Philemon Ngala, het bevestig dat die aangeleentheid van die vee ondersoek word en dat hulle as 'n vakbond hul klagtes geopper het oor die wyse waarop die trusts en die prosesse van die navorsingstroppe en -kuddes bestuur word.
“Ons weet egter nie wat gebeur het met dr. van Rooyen se skorsing nie. Dit is tussen hom en DAFF. As hy 'n lid van Nehawu was sou ons hom verdedig het, maar ek kan wel sê dat Nehawu niks teen hom persoonlik het nie. Ons het meningsverskille met hom as PSA-voorsitter, maar dit is nie verwant aan sy skorsing nie. Dr. Van Rooyen is akademies en op 'n persoonlike vlak 'n uiters professionele, goeie mens."
Aantygings teen hom
Tog bevat kommentaar in Nehawu se takverslae ernstige aantygings oor Van Rooyen. Die verslag vir Mei tot September 2015 (bl. 4) lees: ‘Johan van Rooyen se aptyt vir mag het geen grense nie en hy is bereid om enigiets te doen om sy honger na mag te stil. Die vergadering besluit dus dat massa-aksie die regte manier van optrede is en dat ons gaan eis dat die direkteur moet bedank, aangesien hy nie in staat is om hierdie instelling te lei nie. Daar is ook besluit dat Johan van Rooyen hierdie instelling moet verlaat, aangesien sy teenwoordigheid verwoesting saai.’
Dit blyk dat daar 'n ernstige magstryd tussen die lede van die PSA en Nehawu aan die gang is. PSA-lede beweer dat Nehawu hulle tot arbeidsoptrede gewend het oor die vee-aangeleentheid, sodat DAFF-amptenare betrokke kon raak.
Die PSA, Nehawu en DAFF het in Oktober 2015 vergader en ooreengekom dat 'n taakspan die beweringe binne 'n maand of twee sou ondersoek, maar niks het gebeur tot 19 Julie 2016 nie, toe 'n DAFF-taakspan by Grootfontein opgedaag het om ondersoek in te stel. Na bewering het dr. van Rooyen 'n e-pos aan PSA-lede gestuur waarin hy gesê het dat die taakspan nie die PSA ingelig het oor die ondersoek nie en ook nie enige besonderhede verskaf het nie; dus word voorgestel dat PSA-lede nie hul samewerking gee nie. Nehawu se Grootfontein-tak het klaarblyklik 'n kennisgewing en inligting ontvang oor die taakspan se ondersoek.
Voorwaardes van die ondersoek
Nadat hy die voorwaardes van die ondersoek ontvang het, wat meer gegaan het oor die inwinning van inligting as kriminele aantygings, het dr. van Rooyen teksboodskappe aan die betrokke PSA-lede gestuur met die aanbeveling dat hulle hul samewerking gee in die ondersoek, maar die hulp van 'n vakbondverteenwoordiger inroep indien hulle voel dat die ondersoek hul reg tot 'n regverdige proses beïnvloed.
Drie dae later, op 22 Julie, is Van Rooyen geskors, klaarblyklik op grond daarvan dat hy personeellede aangehits het om nie hul samewerking aan die taakspan te gee nie. Die DAFF moet dit bevestig.
Intussen sê Grootfontein-studente, gemeenskapslede en boere wat op Van Rooyen se ondersteuning staatmaak dat sy skorsing hul studies en hul diere se gesondheid in gevaar stel.
Die direkteur van Grootfontein, Herselman, sê dat klasse nog nie ontwrig is nie, dat hulle soos normaal voortgaan en dat senior navorsers by Grootfontein instaan vir dr. van Rooyen.
Anonieme student
Kommentaar van die studente skets egter 'n ander prentjie. 'n Student wat versoek het om anoniem te bly, sê:
“Ek is 'n student en dr. Van Rooyen bied van ons vakke aan. Sedert sy skorsing het ons al vir ses weke nog nie behoorlik klasse gehad nie. Ons is werklik bekommerd oor hierdie jaar en 80% van die studente weet nie wat ons gaan doen as hy nie terugkom nie. Intussen werk ons aan 'n groot projek wat dr. Van Rooyen vir ons gegee het. Daar is nie aan ons gesê waarom hy geskors is nie, maar ons het gehoor dat daar nie voldoende gronde vir die skorsing is nie. Intussen raak studente agter met hul opleiding as gevolg hiervan.”
Ouers van studente het Agri-Oos Kaap om hulp genader om die akademiese program weer op dreef te kry en vra dat Van Rooyen se skorsing opgehef moet word.
Die riglyne tot voorkomende skorsing, volgens die Wet op Openbare Dienste (1994) verklaar dat voorkomende skorsing-aangeleenthede "billik en geregverdig" moet wees, binne 30 dae afgehandel moet word en nie 60 dae mag oorskry nie. Die voorwaardes verklaar:
* Voorkomende skorsing is 'n tussentydse maatreël opgelê, nie as dissiplinêre strafbepaling, maar om redes vir ordelike administrasie.
* Die werkgewer moet geldige en regverdige redes hê vir die oplegging van 'n voorkomende skorsing teen 'n werknemer, gegrond op regverdige arbeidsverhoudingsbeginsels.
* Voorkomende skorsing ingevolge die raamwerk is nie 'n vonnisoplegging nie en moet met volle salaris geskied.
* Werknemers moet sonder versuim en regdeur die proses ingelig word van die stappe in die proses wat die departement in werking stel.
Van Rooyen het gesê dat hy nie hierop kan antwoord nie, maar dat hy nie van die departement gehoor het sedert sy skorsing nie. Die regverdigheid van sy skorsing word bevraagteken en die onregverdigheid teenoor die studente wat sonder 'n belangrike senior lektor en veearts sit, spreek vanself.