
’n Gelyktydige verhoging van die dieselkorting aan die landbou sal darem op 1 April die slag van twee verhoogde belastingheffings vir boere versag.
Mnr. Fanie Brink, landbou-ekonoom van Bothaville wat destyds as verteenwoordiger van Graan SA die dieselrabat vir die landbou saam met mnr. Johan Pienaar van Agri SA help beding het, wys daarop dat dié korting op 1 April met 62,5c/liter tot R2,50/liter sal styg. Die rabat was aanvanklik net 42,1 c/l (1 April 2001).
Op dieselfde dag sal die brandstofheffing met 30,5 c/liter, en die heffing vir die Padongelukkefonds met 50c/liter styg.
Mnr. Wandihle Sihlobo, ekonoom van Graan SA, het vroeër gesê die verwagte stygings in die petrol- en dieselpryse op 1 April is R1,92 en R1,57 per liter onderskeidelik.
Vir boere sal die verhoogde rabat darem ten minste hierdie dieselprys-verhoging versag.
Brink wys daarop dat boere die rabat kry ongeag of hulle op openbare paaie ry of nie. Die rabat sluit 40% in van die totale belasting op diesel, wat nou met 30,5c/liter gaan styg, en waarvan boere dus net 18c/liter meer gaan betaal.
Boere kry nie die rabat op hul totale diesel-aankope nie, maar op 80% daarvan.
Dié persentasie is destyds, in 2000, in die georganiseerde landbou se onderhandelings oor die rabat met die Nasionale Tesourie ooreengekom. Dit is omdat ’n gemiddelde 20% van boere se aankope geag word as diesel wat vir private doeleindes gebruik word, en nie vir produksie nie, en daarom nie vir die rabat kwalifiseer nie, verduidelik Brink.