
Graan SA het uitblinker-boere wat aan sy ontwikkelingsprogram vir opkomende boere deelneem, vandeesweek vereer.
Van der Poll van Riebeek-Wes boer saam met sy vrou, Jackie, en seun Jacqueon. Hy het ’n John Deere-trekker vir die familieboerdery losgeslaan.
Hy sê as ’n mens weet wat jou roeping in die lewe is, moet jy daarop konsentreer. Hy was in ’n stadium werkloos en het begin om sy pa met die boerdery te help. Hy het toe ontdek boerdery is sy passie. Hy het lank as plaasbestuurder gewerk voordat hy in 2012 vir homself begin boer het.
Hulle boer met ’n wisselboustelsel van koring en medics op droëland, mielies onder besproeiing, Dohne-Merino’s en rooi Angusbeeste. As iemand wat in die kommunale gebied by Bitterfontein tussen die skoolganery deur met bokwerkpligte grootgeword het, verlang hy daarna om ook bokke aan te hou om kaas te maak.
Sy graanboerdery het eers in 2014 aan die gang gekom. Al was dit ’n goeie jaar, het hy te laat geplant om ’n goeie oes te behaal. Daarna was 2015 droog. In 2016 was die reën goed, maar hy kon weer nie betyds plant nie. Ook 2017 was droog, maar Van der Poll sê hy het ’n goeie oes behaal omdat hy vroëer geplant het.
Van der Poll sê hy is ’n “boer en klaar”.
“Dis nie maklik om te boer nie, maar dis vir my lekker. Ek bekommer my oor kontantvloei en wat ons alles verloor het omdat ons nie kontant gehad het om die verlies te voorkom nie. Ek is deur al die dinge en dis nie maklik nie, maar ek kan nie opgee nie. Ek is by my goed: As dit lamtyd is, soggens middae en saans. Ek ry twee, drie keer per dag op dieselfde spoor. As ek weg was en terugkom, lyk die plaas nóg mooier as voorheen.”Hy leef sy droom, maar elke planttyd word hy baie hartseer dat sy pa nooit so ’n geleentheid kon kry nie.
Die 89-jarige me. Anna Ratshikana het die aanwesiges op hul voete gehad toe sy ’n sertifikaat van erkenning ontvang het. Sy boer tussen Lichtenburg en Mahikeng in Noordwes en het tot haar aftrede as verpleegsuster gewerk voordat sy besluit het om te begin boer. Sy het aansoek gedoen om ’n plaas met regeringshulp te koop, en het toe begin boer.
Ratshikana sê danksy Graan SA se hulp met kursusse en die toepassing van beter landboutegnieke sal sy binnekort die plaas kan afbetaal. Sy het in 2014 ’n spilpunt gekoop vir graanverbouing.
Mnr. Sabatha Mthethwa is as Potensiële Kommersiële Boer van die Jaar aangewys. Mthethwa boer by Newcastle in KwaZulu-Natal saam met familielede met droëbone, mielies en vee.
Die familie beoog om die boerdery se waardeketting uit te brei deur ’n slaghuis en ’n meule te begin.
Mthethwa het ook erkenning gekry as lid van die 1 000 ton-klub vir graanboere wat vanjaar meer as 1 000 ton graan gelewer het.
Mthethwa sê hoewel hy ook regeringshulp kry, het die opleidingsprogramme wat Graan SA aanbied hom gehelp om as produsent te ontwikkel.
Graan SA het ook bestaansboere wat uitblink, vereer.
Toegewyde werknemers van die departement van landbou wat op voetsoolvlak help om opkomende boere te bemagtig, het ook erkenning gekry.