
Graan SA het pas geld van Santam Agri ontvang om ’n opleidingsveldtog onder veral jong boere aan te pak. Dít volg nadat die hoofde van dié twee instansies onlangs teenoor mekaar opgemerk het dat hulle, tot voordeel van die landboubedryf, nuwe leiers binne die boere se geledere wil ontwikkel.
“Ons wil veral kandidate onder jong boere identifiseer om in die toekoms as leiers vir die landbou op te lei. Dit is ’n passie van my en Jannie (De Villiers – die nuwe uitvoerende hoof van Graan SA), en derhalwe het ons besluit om R50 000 vir die begin van die opleiding te bewillig,” sê dr. Tobias Doyer, hoof van Santam Agri.
Doyer het dié aankondiging op Woensdag (9 Maart) by vanjaar se jaarkongres van Graan SA gemaak.
Kenners geïdentifiseer
De Villiers sê hoewel nog geen amptelike strukture vir die projek gereed is nie, het hy en Doyer reeds verskeie kundiges geïdentifiseer by wie jongelinge kan leer.
“Ons wil byvoorbeeld fokus op kommunikasievaardighede. So baie van ons mense is Afrikaans en moet gereeld in Engels ’n onderhoud doen, maar kan hulleself nie behoorlik uitdruk nie en so gaan ’n belangrike geleentheid dalk verlore.”
Vaardighede om konflik op te los sal ook op die voorranglys wees.
Volgens De Villiers sal hulle sou gou as moontlik ’n struktuur vir die projek probeer saamstel.
9 Maart 2011