Vreemde weer word in die volgende drie maande verwag, met groot vloede wat vir Februarie voorspel word, aldus die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD).
Luidens ’n berig in Beeld (18 Januarie 2012) moet die grootste deel van die land homself vir swaar reën in dié drie maande voorberei.
Die enigste dele wat gedurende dié maande na verwagting nie so baie reën gaan kry nie, is die sentrale en noordwestelike dele van Limpopo, die noordwestelike deel van Mpumalanag en die Suid-Kaap.
Waarskuwing
Mnr. Cobus Olivier, wetenskaplike en voorspeller van langtermynweer, sê dié swaar reën kan wel alles gedurende Februarie voorkom, terwyl die ander twee maande dan droër as gewoonlik kan wees. Derhalwe waarsku hy teen groot vloede wat moontlik in Februarie kan voorkom.
Olivier voorspel ook dat wintertoestande dié jaar vroeër as gewoonlik gaan begin voorkom. Sy weermodelle wys dat die winter die land reeds in April in sy greep kan kry.
Volgens Olivier kan swaar reën tot in Junie oor ’n groot deel van die land verwag word, veral in die KwaZulu-Natalse Middelland. Die suide van Mpumalanga, die Noord- en Suid-Kaap sal egter in dié tyd droër toestande beleef. “Ons het hier met vreemde weerverskynsels te make,” aldus Olivier.
Bron: Beeld
18 Januarie 2012