
VKB se direksie het reeds die transaksie goedgekeur onderhewig aan die goedkeuring van GWK-aandeelhouers en die betrokke regulatoriese goedkeurings, onder meer van die mededingingsowerhede.
Die twee maatskappye onderhandel sedert Julie 2020 oor ’n samesmelting. ’n Aankondiging oor ’n vaste voorneme vir die moontlike samesmelting is op 8 Julie aan GWK-aandeelhouers bekend gemaak.
Die aankondiging is opgevolg deur ’n reeks spesiale inligtingsessies vir GWK-aandeelhouers in die week van 11 tot 14 Julie. Die doel hiervan was om fynere besonderhede oor die transaksie aan dié aandeelhouers te gee. Dit was ook ter voorbereiding vir die spesiale GWK-aandeelhouersvergadering van 11 Augustus.
Mnr. Nicolaas Kruger, voorsitter van die GWK Groep se direksie, sê ná ’n konstruktiewe en deeglike onderhandelingsproses tussen GWK en VKB het GWK se direksie eenparig besluit om die transaksie te ondersteun en vir goedkeuring aan die maatskappy se aandeelhouers voor te lê.
“Ons is verheug dat GWK se aandeelhouers saamstem met die strategiese voordele wat die transaksie met verloop van tyd vir die verskillende belanghebbendes kan ontsluit, insluitend skaalvoordele, groeigeleenthede en risiko-diversifikasie,” sê Kruger.
Twee jaar se onderhandelinge
Volgens mnr. Koos Janse van Rensburg, die VKB Groep se huidige besturende direkteur, is die aanvaarding deur GWK se aandeelhouers van VKB se aanbod die resultaat van twee jaar se onderhandelings. “GWK én VKB se produsente sal baat vind by die transaksie. Die sinergieë tussen die ondernemings sal die groter onderneming na ’n volgende rat laat oorskakel ná die transaksie. Dit sal nuwe geleenthede ontsluit en ook vir personeel beter persoonlike groeigeleenthede bied. Ons sien daarna uit om die geleenthede te ontgin indien die regulatoriese owerhede die transaksie goedkeur.”
Dr. PG Strauss, wat Janse van Rensburg vanaf 1 Oktober as besturende direkteur van die VKB Groep opvolg, sê GWK en VKB het ’n belangrike bydrae om te lewer in die Suid-Afrikaanse landboubedryf. “Samewerking verbeter die volhoubaarheid van albei ondernemings, en verseker dat albei ondernemings ook in die toekoms produsente sal kan ondersteun om vooruit te gaan en volhoubaar te wees. Dít met die doel om voedselsekerheid en ekonomiese groei van Suid-Afrika te ondersteun.”
Sleutelbeginsels
Die voorgestelde transaksie sluit opsommend die volgende sleutelbeginsels in:
- ’n Kontantbedrag asook ’n finansiële instrument wat deur VKB uitgereik word aan GWK-aandeelhouers om op ’n regverdige grondslag volgens kapitaalwaarde saam met aandeelhouers van VKB belange en stemreg in die gesamentlike onderneming te hê;
- Verteenwoordiging van albei maatskappye se historiese aandeelhouers in die direksie van die gesamentlike onderneming;
- Behoud van albei handelsmerke, sowel as voortgesette besigheid onder hierdie handelsmerke; en
- ’n Integrasiekomitee met gelyke verteenwoordiging uit die twee groepe sal ingevolge die transaksie die mandaat hê om die integrasie van die ondernemings se bedrywighede te beplan en te monitor.
Die samestelling en ontwerp van die transaksie is bestuur deur afgevaardigdes van GWK en VKB, met die samewerking van Pallidus, ’n eksterne, onafhanklike korporatiewe adviseur
Die afgevaardigdes van GWK en VKB het krities gaan kyk na verskeie aspekte, onder meer sinergieë ten opsigte van maatskappykultuur en -struktuur, ’n gemeenskaplike visie om die landbou verder te bevorder, die behoud van ’n onderneming in boerebesit en die voortsetting van gehalte-ondersteuning aan produsente op plase.
Volgens mnr. Coenraad Fick, voorsitter van die VKB Groep se direksie, is VKB oortuig dat die voorgenome transaksie waarde inhou vir albei ondernemings en hul aandeelhouers. “Ons verwag dat sinergieë ontsluit kan word wat tot groter stabiliteit en volhoubaarheid sal bydra in ’n moeilike en wisselvallige omgewing.”
Volgens hom sal die twee ondernemings se ooreenstemmende kulture en visie bydra om toepassing te vergemaklik.
Mnr. Llewellyn Brooks, die GWK Groep se besturende direkteur, sê die ondersteuning van GWK se aandeelhouers is ’n belangrike mylpaal in die onderneming se strategiese reis. “Ek is opgewonde oor die geleenthede wat hierdie transaksie vir al ons belanghebbendes gaan ontsluit en sien daarna uit om die landboumaatskappy van die toekoms te help skep.
“Ons voorsien ook dat dienslewering aan kliënte sal verbeter met gepaardgaande voordele. Ons is opgewonde dat dit ’n stewige basis sal skep om geleenthede vir toekomstige groei en vooruitgang te benut.”
Die voorgestelde transaksie tussen GWK en VKB sal eersdaags dien voor die mededingingsowerhede en is, onder meer, onderhewig aan hierdie goedkeuring voor die integrasieproses kan begin.