
Groei in lande soos Ethiopië, Uganda en Zimbabwe, kan beteken dat dié lande binnekort in Suid-Afrika se nek blaas om die grootste hap van handel tussen Afrika-lande te verkry.
Me. Lulama Ndibongo-Traub van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) het tydens die Kaapse bekendstelling van hul vooruitskouing tot 2026 gesê lande in die Sub-Sahara-streek dryf al hoe meer met mekaar handel. Hulle verkoop veral groente, vis, diere- of plantaardige olies en oliesade aan mekaar.
“Ons dryf nie net handel in grootmaat-kommoditeite nie, wat beteken Afrika se dieet is aan die verander,” sê sy.
Meer geld vir tegnologie
Meer geld moet derhalwe bestee word aan tegnologie-ontwikkeling en infrastruktuur om seker te maak die Suid-Afrikaanse landboubedryf kom in rat vir die groeiende vraag na kos in Afrika.
In 2015 het net minder as ’n miljard mense op die vasteland gewoon, maar na verwagting sal dié syfer tot meer as 2 miljard styg teen 2050. Die bevolkingsgroei sal een van die groot drywers vir die groter behoefte aan voedsel wees.
Ndibongo-Traub sê die groot vraag is of dit Amerika, Asië, Europa of Afrika self is wat in die vasteland se kosbehoeftes gaan voldoen.
Afrika kan homself voed
“Danksy politieke verbintenisse om die handel tussen Afrika-lande te verdriedubbel, is daar ’n goeie kans dat Afrika homself sal kan voed, al is daar steeds baie hoë nie-tariefbepekerings in plek.”
Suid-Afrika neem tans die voortou met handel in Afrika. Twee jaar gelede was Suid-Afrika verantwoordelik vir sowat 42% van die handel tussen Afrika-lande. Die land kan egter van sy posisie ontneem word deur lande soos Ethiopië, Uganda of Zambië, waar sake fluks groei.
Volgens Ndibongo-Traub is dit noodsaaklik dat Suid-Afrika sy beleid in plek kry wat die risiko en koste verminder om sake te doen in die primêre landbou sowel as die waardeketting. “Ons moet sorg dat daar waarde toegevoeg word tot die sektor,” sê sy.
Meer geld
Ndibongo-Traub meen meer openbare fondse moet in Suid-Afrika op navorsing en ontwikkeling en voorligtingsdienste bestee word om seker te maak die land kan in die groter vraag na kos in Afrika voldoen.
“Ons moet meer beleggings in waterinfrastruktuur sien, veral in die herstel van kanale en ander verouderde waterinfrastruktuur. Onderbenutte besproeiingskemas moet aan die gang gekry word en ons moet betyds belê in nuwe waterontwikkelings, want dit gee boere toegang tot een van die belangrikste hulpbronne.”
Sy het ook voorgestel die Regering ontwikkel beleid wat koste verminder, mededingendheid verbeter en die ekonomiese basis verbreed sodat waardeketting-geleenthede ontwikkel kan word.
“Ons sien ’n kommerwekkende neiging van moontlike de-industrialisasie in Suid-Afrika en Ghana. Dit kan ’n teken van ekonomiese wasdom wees, maar die negatiewe sy van die saak is dat dit ook daarop kan dui dat handel ons vermoë om kos te produseer, vervang.”