
Die ekonomiese vennootskapsooreenkoms (EVO) tussen Suider-Afrika en die Europese Unie (EU) is ’n duidelike sukses en die geleenthede wat dit skep, is nog nie naastenby uitgeput nie.
Só het mnr. Raul de Luzenberger, adjunkhoof van die EU-afvaardiging na Suid-Afrika, in Johannesburg gesê op ’n EU-seminaar oor standaarde vir voedselprodukte.
Die EVO is ses jaar in werking en word kragtens die ooreenkoms nou hersien.
Volgens De Luzenberger het Suid-Afrika se uitvoer na die EU selfs in die covid-19-pandemie gegroei en het die land ten opsigte van voedsel ’n positiewe handelsbalans met die EU.
Mnr. John Clarke, direkteur van internasionale betrekkinge van die Europese Kommissie se direktoraat-generaal vir landbou en landelike ontwikkeling, sê Suid-Afrika voer nou voedselprodukte van €2,3 miljard (R38,6 miljard) per jaar na die EU uit, terwyl die EU €1,7 miljard (R28,5 miljard) s’n na Suid-Afrika uitvoer.
“Ons is baie bly Suid-Afrika het ’n handelsurplus met Europa. Ons hou van invoer, ons hou van jul produkte en ons is baie bly om handel in albei rigtings te sien groei,” het Clarke gesê.
Handelsversperrings
Volgens hom is daar ruimte om die tweerigtinghandel te verbeter, maar daar is struikelblokke.
“Die oormatige gebruik van verdedigende handelsinstrumente en van sanitêre en fitosanitêre maatreëls belemmer tot ’n sekere mate ons bilaterale handel.” Die kommissie werk volgens hom saam met Suid-Afrikaanse owerhede om hindernisse uit die weg te ruim.
‘Meer as net syfers’
Clarke en De Luzenberger het benadruk dat die EVO nie net oor handelsyfers gaan nie, maar ook die skep van groei- en werkgeleenthede.
Volgens Clarke werk sowat 350 000 Suid-Afrikaners by duisende Europese maatskappye in Suid-Afrika en dié maatskappye verteenwoordig byna die helfte van alle direkte buitelandse belegging in die land.
Die EU het projekte vir onder meer die bemagtiging van plaaswerkers en swart plaaseienaars, en vir transformasie in die wynbedryf.
EU-standaarde
Sprekers op die seminaar het oor die EU se hoë gesondheids- en veiligheidstandaarde gepraat, asook oor die toekomstige vereistes van die Farm to Fork-strategie. Laasgenoemde is gemik op hul eie boere, maar ook ingevoerde voedselprodukte.
Die strategie is gemik op volhoubare voedselproduksie en het teikens om die gebruik van chemiese plaagdoders en kunsmis, asook antimikrobiese middels vir diereproduksie te verminder en om organiese boerdery tot 25% van totale landbougrondgebruik in die EU te verhoog.
‘SA berei voor vir nuwe vereistes’
Mnr. Dipepeneneng Serage, waarnemende adjunkdirekteur-generaal van die Suid-Afrikaanse departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het die versekering gegee dat Suid-Afrika een van die eerste lande sal wees wat aan die Farm to Fork-vereistes sal voldoen wanneer dit in werking tree.
Die staat is besig om wetgewing te wysig sodat organiese produksie in Suid-Afrika beter bestuur kan word.