
Die sitrusbedryf sal na verwagting vanjaar sowat 133 miljoen kartonhouers vrugte verpak. Dis sowat 10 miljoen meer as verlede jaar, het mnr. Mitchell Brooke van die sitruskwekersvereniging vroeër vanjaar op ’n vergadering van die sitruslogistieke forum op Stellenbosch gesê.
Veral die produksie van sagtesitrus (satsumas, clementines en mandaryne) het in die noordelike produksiegebied, die Oos-Kaap en veral die Wes-Kaap toegeneem.
“Die meeste van die aanplantings is mandaryne – spesifiek die kultivar Nadorcott – wat laat in die seisoen gepluk word,” het Brooke gesê.
Volgens hom ervaar die bedryf vanjaar groot struikelblokke, veral in die Durbanse hawe.
Mnr. Josef Malan, hoofbestuurder van die Naranja-pakhuis naby Burgersfort, tans die grootste sagtesitrus-pakhuis in Suid-Afrika, meen die infrastruktuur was nie die voorbereid op die groei nie en is nie ontwerp vir hierdie tipe volumes nie.
“Ons pak sowat 800 palette per dag en dit vereis ongeveer 40 vragmotors op pad na die hawe en net soveel op pad terug. Dit beteken ons moet ongeveer 120 vragmotors in sirkulasie hê, slegs vir een pakhuis. Daar is eenvoudig nie genoeg koelvervoer beskikbaar nie, veral omdat die avokado-seisoen met ons s’n saamval,” sê Malan.
Selfs te min parkering op hawens
Me. Lucille Strecker, bestuurder van stelsels en inligting by Naranja, sê hawens sukkel om die vragmotors vinnig genoeg af te laai. Daar is ook heeltemal te min inprop-plek vir koelgeriewe.
“Daar is nie eens genoeg parkering in die hawens nie; die vragmotorbestuurders weet al hulle gaan parkeerboetes kry. Daar is groot risiko’s aan verbonde as die vrugte op die skeepswerf moet wag om afgelaai te word.”
Volgens Brooke het dit verlede seisoen gemiddeld 600 minute omdraaityd gekos vir vragmotors in die Durban-hawe. Vanjaar is dit ietwat beter, hoewel dit sommige weke baie stadig was.
Malan sê die Kaapse hawe, waar heelwat steenvrugte uitgevoer word, is beter ingerig om die koelketting te handhaaf as ander hawens, maar volumes raak ’n probleem. Dis ook vir Naranja heelwat duurder om vragmotors Kaapstad toe te stuur omdat terugvragte nie altyd beskikbaar is nie.
Volgens Brooke sal die noordelike produksie-streek in hul spitsseisoen (rondom week 28 en 29) tot 9 000 vragmotor-ritte nodig hê om die verhoogde produksie te hanteer.
“Dis ’n totaal van 49 000 ritte tydens die seisoen om die vrugte na die Durban-hawe te vervoer. Die vraag na vervoer sal waarskynlik die aanbod oorskry.”
Terselfdertyd sal die groter volumes baie druk op die hawe se koelopbergingsvermoë plaas.
“Daar sal waarskynlik nie genoeg vermoë wees om die volume te hanteer nie. Dit het verlede jaar ook gebeur dat daar net te veel voorraad na Durban gegaan het in verhouding tot die hawe se vermoë. Dit het opeenhopings veroorsaak.”
Brooke verwag ’n bykomende 10 000 vragmotor-ritte gaan in die Oos-Kaap nodig wees en 5 000 in die Wes-Kaap. Hulle ondersoek die moontlikheid om meer spoorvervoer te gebruik. “Die teiken is om teen 2022 altesaam 8 000 vragmotor-ritte met spoorvervoer te vervang.”
Namate vraghouerskepe toenemend veld wen, verwag Mitchell boonop dat nog 96 300 vraghouers nodig sal wees oor die volgende drie jaar.
“Die groot vraag is of die hawens ’n toename van 25% in vraghouer-verkeer in en om die hawens sal kan hanteer. Ons verwag dit sal net meer opeenhopings in die hawens veroorsaak, maar ons werk saam met Transnet om seker te maak die infrastruktuur kan die volumes hanteer.”
Op die vergadering op Stellenbosch het me. Lorraine da Fonseca van TPT (Transnet se hawe-terminale) erken daar was verlede jaar probleme met onder meer opeenhopings, beskadigde kragpunte en platforms, swak beligting op die skeepswerwe, verlore kabels, foute wat nie betyds aangemeld is nie, en temperatuurverstellings wat nie deurgegee is nie. Vraghouers is self gelig terwyl dit nog ingeprop was.
Sy het gesê verskeie planne is beraam “dinge anders te doen”.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.