
Landboutransformasie in Afrika word hoofsaaklik aangevuur deur die voedselsituasie wêreldwyd, het mnr. Tinashe Kapuya, voorsitter vir internasionale handel en beleggingsinligting by Agbiz, op Agri Wes-Kaap se kongres gesê.
Sowat 60% van die wêreld se beskikbare landbougrond (tot 160 miljoen hektaar) is in Afrika, maar heelwat daarvan is in oerwoude en baie afgeleë. Die meeste belangstelling in sulke grond is in sewe lande gesentreer en vier daarvan is in Suider-Afrika, naamlik Mosambiek, Tanzanië, Zambië en Madagaskar. Altesame 2,3 miljoen hektaar in dié vier lande is reeds om verskillende redes aan internasionale belangstellendes oorgedra.
Sewe van die 20 vinnigs groeiende ekonomieë ter wêreld is in Afrika. Lande in Suider-Afrika (Suid-Afrika uitgesluit) wat onder die 30 vinnigs groeiende ekonomieë tel, is die Demokratiese Republiek van die Kongo, Tanzanië, Zambië en Mosambiek.
Tog is die inkomste per kop van inwoners oneweredig versprei – tot 80% oorleef nog op minder as $4 (sowat R42,60) per dag. Teen 2050 sal 60% van die vasteland suid van die Sahara verstedelik wees, het Kapuya gesê.
“Afrika bly egter ’n moeilike vasteland om in sake te doen. Private maatskappye waag soms groot risiko’s.” Volgens hom is dit egter aan die verbeter.
“Agbiz het ’n netwerk van instansies en vennootskappe met konsultante oor die hele vasteland wat dit vandag heelwat makliker maak om sake in Afrika te doen en risiko’s verminder,” het hy gesê.