
Die mededingingskommissie het aangekondig die mededingingstribunaal kan die transaksie met sekere voorwaardes goedkeur.
Heineken beoog om die beherende aandeel in Namibian Breweries Investment Holdings Limited (NIH) en die Distell-groep se portefeuljes vir wyn, spiritualieë en gegeurde alkoholiese drankies te bekom deur middel van Newco, ’n maatskappy wat deur die Heineken-groep beheer word.
Heineken het reeds bedrywighede in Suid-Afrika, onder meer die Sedibeng-brouery waar ’n reeks bekende bierhandelsname soos Heineken, Amstel en Windhoek gebrou word.
Heineken het reeds ooreenkomste met Namibian Breweries aangegaan om produkte soos Windhoek in Suid-Afrika te brou, bemark en versprei.
Distell en Heineken is luidens die verklaring van die mededingingskommissie die “enigste beduidende vervaardigers” van siders in Suid-Afrika.
Distell se Hunters en Savanna sal dus ook onder Heineken (Newco) val.
Handelsname wat uitgesluit is
Distell-handelsname wat nie deel sal wees van die transaksie nie, sluit in Black Bottle, Bunnahabhain, Burn McKenzie, Deanston, Gordons Gin, Scottish Leader en Tobermory Gin.
Hierdie bates en handelsmerke sal ná die samesmelting aan Capevin Holdings (Capevin) behoort, wat tans ’n afdeling van Distell is.
Ná die transaksie sal dié aandele aan Distell se huidige aandeelhouers behoort en ook aan Heineken in die geval waar Distell-aandeelhouers besluit om hul Capevin-aandele aan Heineken te verkoop.
Strongbow se toekoms
Heineken het onder meer sy Strongbow-sider in 2016 in Suid-Afrika begin vervaardig, maar sal nou van sy Strongbow-belange in Suid-Afrika en ander lande in die Suider-Afrikaanse Doeane-unie (Sadu) ontslae moet raak, volgens die kommissie.
Verpligtinge
Van die verpligtinge waaroor ooreengekom is, sluit in die belegging van meer as R10 miljard oor vyf jaar in Suid-Afrikaanse bedrywighede en aanlegte.
Wat van werknemers?
Die partye moet vir vyf jaar ná die samesmelting die totale saamgevoegde personeelkorps behou. Ander voorwaardes wat personeelsake betref, sal ook geld.
- Lees volgende week meer oor die samesmelting en impak wat dit op Suid-Afrikaanse produsente kan hê.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.