Die Distell-groep, Suid-Afrika se grootste drankvervaardiger, het op 15 November aangekondig dat Heineken, die wêreld se tweede grootste brouer, ’n aanbod gemaak het om Distell vir R40,1 miljard te koop. Die aankondiging was nie onverwags nie.
Heineken het Distell reeds in Mei 2021 genader hieroor en samesprekings oor die aard van die transaksie en die koopprys is intussen gevoer. Heineken het uiteindelik ’n aanbod gemaak om die Distell-groep se aandele teen R180 per aandeel te koop.
Dit is ietwat minder as wat die mark vooraf verwag het, maar ontleders sê daar moet eerder gekyk word na die groeipotensiaal van die nuwe entiteit, wat ook Heineken se ander verkryging, Namibia Breweries, insluit.