‘n Veldtog om die land se voedselsekerheid in veral arm huishoudings te verbeter, is deur die Demokratiese Alliansie (DA) bekend gestel.
Luidens ‘n verklaring ly sowat 52% van huishoudings in Suid-Afrika honger, en ‘n verdere 33% sê hulle is weens stygende pryse op die rand daarvan om honger te ly.
Intussen styg die koste van stapelvoedsel drasties. Volgens die DA het die prys van ‘n 5kg-sak mieliemeel van Januarie 2011 tot Januarie 2012 met 63,88% gestyg. Dit is kommerwekkend, want dit is die stapelvoedsel van baie arm huishoudings.
Voedselpryse het die afgelope paar jaar met 14,3% gestyg, en die koste van voedsel beslaan tans sowat 39% van arm huishoudings se uitgawes. Die party meen dié situasie bedreig mense se reg tot voedsel, wat in die Grondwet vervat is.
Die klem in die veldtog
Die DA sê sy veldtog – wat op die party se 8% Groeiprojek fokus - lê groot klem op die rol wat die landbou kan speel om die voedselsekerheid in Suid-Afrika te ondersteun. Die party sê fasilitering van produksiegroei deur opkomende boere, die beperking van die invloed van vasgestelde pryse en bystand rakende aanpassing by klimaatsverandering is hoog op die voorkeurlys.
Verder is die party ook bekommerd oor die lae vlakke van mededinging in die voedselbedryf. Swak paaie en die invloed wat dit op die verspreiding van voedsel het, is ook ‘n kwessie onder bespreking.
Van die hoogtepunte van die veldtog sal vrae in die Parlement en besoeke aan aanlegte insluit.
15 Mei 2012