Die Ekapa-myngroep, ’n mynmaatskappy in Kimberley, het hande gevat met akademici en bewaringsorganisasies in ’n grootskeepse navorsingsprojek om bestaande data oor flaminke se habitatte uit te brei.
Die maatskappy is reeds sedert 2006 by die bewaring van veral kleinflaminke betrokke, en wil onder meer vasstel op watter plase flaminke gunstige habitatte vind om moontlik te broei en floreer. Benewens Ekapa, is BirdLife Suid-Afrika, wetenskaplikes van die Sol Plaatje-universiteit en ’n plaaslike veearts by dié formele navorsingsgroep betrokke.
“Inligting oor veilige habitatte en hul verspreiding in Suid-Afrika is belangrik wanneer gerehabiliteerde voëls weer vrygelaat moet word. Ons wil bewus wees van al die moontlike habitatte vir die flaminke en dit sal deel word van die bewaringsplan vir flaminke,” sê me. Ester van der Westhuizen-Coetzer, omgewingspesialis by Ekapa-myngroep.