
Me. Francina Rakgahla van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling sê die departement is besig met die opstel van die regulatoriese stelsel en is daartoe verbind om die beoogde datum te bereik. “Dit kan vroeër wees.” Die departement het ’n virtuele dagga-inligtingsessie gehou.
Veranderinge is reeds gemaak aan die regulasies vir die Wet op Plantverbetering (Wet 53 van 1976) om hennep as ’n landbougewas te reguleer. Die regulasies stel die verpligte registrasie van besighede, soos saadmaatskappye, kwekerye en laboratoriums, asook die registrasie van variëteite in die land.
Rakgahla sê die mandaat vir die permitstelsel sal van die departement van gesondheid en die reguleringsowerheid vir Suid-Afrikaanse gesondheidsprodukte (Sahpra), na die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling oorgedra word. Dit beteken dat dié departement voortaan verantwoordelik sal wees om permitte aan boere toe te staan. Die permitte van bestaande permithouers vir hennep sal ook na die departement oorgedra word. Wysigings is ook aangebring aan die Wet op Planttelersregte (Wet 15 van 1976) sodat dit beskerming bied aan intellektuele eiendom.
Daar is twee soorte permitte waarvoor aansoek gedoen sal kan word – een vir primêre produksie en die ander vir vervaardiging.
Waardeketting
Vier fases in die waardeketting is geïdentifiseer, naamlik produksie-insette, primêre produksie, vervaardiging en produkontwikkeling, en bemarking. Onder produksie-insette is daar geleenthede vir telermaatskappye, saadmaatskappye, kwekerye en chemiese maatskappye. Onder primêre produksie is daar geleenthede vir kleinskaalse- en kommersiële kwekers en kontrakteurs. By vervaardiging en produkontwikkeling is daar geleenthede by die vervaardiging van onder meer voedselprodukte, dierekos, farmaseutiese produkte, drankies, tekstiele, boumateriaal en nywerheidsprodukte. Wat bemarking betref, is daar geleenthede vir plaaslike en uitvoermarkte.