Mnr. Hennie Prinsloo (83), veteraan van die wolbedryf, is die naweek ná ‘n maandelange siekbed in sy huis in Smithfield oorlede.
Prinsloo, vroe?r van die plaas Heuningkrans buite Smithfield, was in die jare tagtig vir tien jaar voorsitter van die eertydse Wolraad. Hy was ook die raad se laaste voorsitter, voordat dit in die era van deregulering ontbind en die bates na die Woltrust oorgedra is.
Benewens sy diens aan die Wolraad, het hy ook as voorsitter van die Nasionale Wolkwekersvereniging en vise-voorsitter van die Internasionale Wolsekretariaat (IWS) gedien.
Hy het vir bykans ‘n halfeeu, van 1951 tot 1999, op Heuningkrans geboer en die Heuningkrans-stoet bedryf. Dit is een van die oudste Merino-stoeterye in die land. Prinsloo het dit van sy pa, Dawid Naudé, oorgeneem. Sy een seun, Eddie, bedryf die stoet deesdae met groot sukses.
Prinsloo sr. laat sy vrou, Dolores, vier kinders, Dawid van Kaapstad, Fana van Caledon, Hennie van Bloemfontein, en Eddie van Heuningkrans, agter, asook tien kleinkinders.
Die begrafnisdiens is Saterdag om 11:00 uit die NG-kerk op Smithfield, gevolg deur die teraardebestelling op Heuningkrans.
15 November 2010