
Die Department van Landbou, Bosbou en Visserye het verlede week sy medewerkers landwyd gevra om hul waarnemings en verslagdoening oor die voorkoms van dié plaag te verskerp. Daar moet daagliks of weekliks verslae aan die departement gestuur word indien die wurms in ’n nuwe gebied of vir die eerste keer hierdie produksiejaar in ’n gebied gewaar word.
Opsommende verslae moet ook elke maand deur elke provinsie ingedien word.
Die plaag kom reeds in ál vyf distrikte van Limpopo voor en uitbrekings is ook in Mpumalanga aangemeld. Verlede week is ook berig van uitbrekings in die omgewing van Ncera by Oos-Londen in die Oos-Kaap.Gids vir bestryding
Intussen het die Amerikaanse hulpagentskap USAid ’n gids vir die bestryding van die plaag bekend gestel.
Die wurms, wat veral mielieplante vreet, is op 3 Februarie verlede jaar vir die eerste keer in Suid-Afrika opgemerk nadat dit sedert 2016 elders in Afrika voorgekom het.
Volgens USAid kom die hersfkommandowurm nou in meer as 30 Afrika-lande voor en hou dit ’n aansienlike bedreiging vir voedselsekerheid in. Sonder behoorlike bekampingsmaatreëls kan dit na raming skade van $3,6 miljard (R43,2 miljard) tot $6,2 miljard (R74,4 miljard) in die 12 grootste mielieproduserende lande aanrig.Internasionale kundiges het die nuwe, omvattende gids vir geïntegreerde plaagbestryding, bekend as Fall Armyworm in Africa: A Guide for Integrated Pest Management, saamgestel.