
Die departement by navraag gereageer op gerugte dat waarnemings tot stilstand gekom het nadat Graan SA, wat verlede jaar betaal het om die monitering te laat doen, hom in Desember onttrek het omdat die department glo nie sy kant as vennnoot gebring het nie.
Mnr. Steve Galane, woordvoerder van die department, sê die staat betaal geen private instelling om die monitering te doen nie. Hy sê dit is moontlik dat van die bedrywe en individuele boere dit wel doen.
Die aanmelding van herfskommandowurms is een van die doelwitte van die stuurkomitee vir die plaag. Die komitee ontmoet gereeld en bied ’n platform vir mense uit die bedryf en provinsiale regerings om die voorkoms van wurms, hetsy vanweë lokvalle vir motte of waarnemings van eiers en larwes op plante maandeliks aan te meld. Baie min skade is nog in die 2018-’19-mielieproduksieseisoen aangemeld.
Oor waar die plaag op die oomblik voorkom, sê die department kleinboere in Limpopo ly dalk skade, terwyl KwaZulu-Natal se department van landbou en landelike ontwikkeling gereeld motwaarnemings en skade aanmeld. Geen verslae van skade is uit die res van die land ontvang nie.
Waarnemings help om te bepaal wanneer die plaag weer gebiede soos die Vaaldriehoek bereik nadat dit in die vorige winter deur die koue uitgewis is. Dit help ook om die vlakke van uitbrekings te bepaal in dele soos die Laeveld en subtropiese gebiede waar dit deurgaans voorkom.
Die afwesigheid van skade in die mieliedriehoek kan toegeskryf word aan laat aanplantings weens laat reën, omdat sekere kultivars meer weerstand teen die wurms bied of as gevolg van die afwesigheid van wurms in die droë tydperk.
Mnr. Jan-Hendrik Venter, bestuurder van vroeë waarskuwingstelsels vir plantgesondheid by die departement, sê sommige boere raak nou gewoond aan die wurms en meld dit nie meer aan nie. Veral by suikermielies en saadmielies kan groot skade voorkom as die wurms nie betyds bestry word nie.
“Dit is ’n onvoorspelbare plaag en kan boere groot skade berokken as die wurms nie betyds waargeneem word nie. Larwes wat langer as 1 cm is, het al weerstand teen insekdoders en is moeilik om te bekamp. Om monitering met motlokvalle te ondersteun is die beste vroeë waarskuwingstelsel.”
Die voorgeskrewe bestrydingsmaatreëls vereis van ’n boer om al die nodige fitosanitêre maatreëls te tref en herfskommandowurms volgens die aanbevole maatreëls van die department te bestry. Kragtens die bestrydingsmaatreëls is daar ’n verpligting om die voorkoms van die plaag aan te meld.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.