
Prof. LJ Grobler van die Noordwes-Universiteit het tydens Agri Noord-Kaap se jaarkongres op Kimberley gesê ’n onafhanklike netwerkoperateur is in Suid-Afrika nodig om mededinging in die plaaslike elektrisiteitsvoorsieningsbedryf te bewerkstellig.
Volgens Grobler sal die verbruiker verlief moet neem om hom aan te pas by voortdurende kragonderbrekings weens netwerkprobleme. “Wanneer kragonderbrekings voorkom, wie ook al daarvoor verantwoordelik is, moet die eindverbruiker gebeurlikheidsplanne in werking stel om sy sake vlot te bedryf.”
Sy aanbeveling is dat verbruikers steeds aan die bestaande kragnetwerk gekoppel bly. Rugsteunstelsels kan egter aangewend word om noodsaaklike diens te lewer.
Prossesse
Mnr. Nicol Jansen, voorsitter van Agri Noord-Kaap, sê goeie vordering is die afgelope vyf jaar gemaak om die landbou by die netwerk vir die opwekking van hernubare elektrisiteit ingeskakel te kry.
Volgens Jansen het die opwekkingsgeleenthede dermate verbeter dat verbindings met lae volt ook krag aan die netwerk kan lewer. “Daar is vordering binne Eskom met die ontwikkeling van produkpakette op sy webwerf. Dalk net nie vinnig genoeg nie,” sê hy.
Agri SA se klem ten opsigte van hernubare energie is om die onaanvaarbaar lang tydsduur van prosesse binne Nersa en Eskom verkort te kry. “Jy moet darem binne een boekjaar jou sonkragprojek kan beplan en afhandel. Die rompslomp strem die ekonomie daarvan,” sê Jansen.
’n Tweede kwessie is die uitbreiding van die produkpakkette om die winsgewendheid daarvan te verseker. “Die versekeringsdeel moet aangepas word om te voorkom dat die landboubedryf se sekuriteit vir die uitbreiding van energie-opwekking gebruik word,” sê hy. “Die bedryf se sekuriteit moet aangewend word vir sy ontwikkeling en herbelegging in landbou. Derhalwe werk ons hard aan die finansieringsopsies.”
Agri Noord-Kaap se kongrestema van strategiese beplanning vir landbourisiko’s het onder meer besprekings oor grondbesit, ekonomiese risiko’s soos die stygende energiekoste en rampondersteuning ingesluit.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.