Suid-Afrika se mikpunte vir hernubare krag kan jaarliks $660 miljoen tot die land se kragrekening byvoeg, sê pres. Jacob Zuma.
Luidens ’n berig op Engineering News kan die verhoogde koste tot 2044 voortduur tensy geld van ander bronne gevind word.
Dié mikpunte is in die land se geïntegreerde hulpbronnplan uiteengesit. Die land wil teen 2030 sowat 17 000 megawatt energie opwek, wat sowat 40% sal wees van alle nuwe kapasiteit wat teen daardie tyd bygevoeg sal wees.
Zuma het Maandag (5 Desember 2011) op ’n beraad by die COP 17-kongres in Durban gesê die grootste probleme wat die land in dié verband ervaar, is geldelik.
SARi
Om dié probleem aan te pak is die Suid-Afrikaanse Hernubare inisiatief begin. Deur middel van dié inisiatief wil die Regering geld van internasionale donateurs en regerings kry om die koste te dek. Die aanvanklike vennote in sulke ooreenkomste sal Brittanje, Denemarke, Switserland, Noorweë, Duitsland en die Europese Beleggingsbank insluit.
Die inisiatief sal op laekoste-lenings of betaling-vir-prestasie-toelae gegrond wees. Na verwagting kan ’n tekort van $3,5 miljard tot 2044 egter ontstaan, ondanks die implementering van die inisiatief.
Bron: Engineering News
7 Desember 2011