Die strategie rondom grondhervorming in Suid-Afrika moet herontwerp word “anders gaan dit nooit werk nie,” sê dr. Theo de Jager, ondervoorsitter van Agri SA.
Hy meen die onderbesteding van die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming is tragies. “Of daar nou geld is of nie, dit maak nie saak hoe baie geld daar is nie - hulle kan selfs die grond verniet onteien - grondhervorming sal nooit suksesvol wees as die departement nie die amptenare het wat die werk behoorlik kan doen nie,” sê De Jager.
Luidens ‘n verslag van die Staande Komitee in die Parlement, wat alle departemente se besteding en vordering monitor, het die departement se onderbesteding vir die 2009/’10 boekjaar teen die vierde kwartaal van 2009 sowat R536,4 miljoen beloop. Dit is 8,39% van die departement se totale begroting. Sowat R400 miljoen van dié bedrag is nie aan grondhervorming bestee nie.
Grondhervorming is só ver agter
De Jager meen die onderbesteding van die departement is ironies: “Grondhervorming is só ver agter, wilde uitsprake word gemaak en hulle wil nuwe wetgewing op die tafel kry wat die potensiaal het om die landbou te ontwrig, omdat hulle sê daar is nie geld nie.”
Volgens De Jager vra Agri SA al ‘n geruime tyd vir ‘n herontwerp van die strategie en die departement se werking. Een van die belangrikste veranderings volgens Agri SA is behoorlike navorsing na grondpryse en korrupsie binne die departement.
Dié navorsing moet gelokaliseer word, sodat alle rolspelers in die bedryf, insluitend boere, nie-regeringsorganisasies en die eiendomsmark, kan deel hê aan die proses. “Só kan besluit word watter plase is geskik vir hervorming en as iemand in die departement vashaak met ‘n probleem, het hulle vele bronne om na toe te draai vir hulp,” sê De Jager.
Na verwagting sou die veelbesprokegroenskrif vóór die ANC se tweejaarlikse amptelike kongres in die Parlement ter tafel gelê word. Die kongres begin volgende week, en De Jager sê daar is nog nie sprake dat die dokument in die Parlement gaan verskyn nie.
15 September 2010