
Só skryf dr. André van der Vyver, uitvoerende direkteur van die SA graan-en-oliesadehandelsvereniging (Sacota), in die organisasie se jongste nuusbrief. Die Oos-Londen Transnet-haweterminale het in 2022 die graanterminaal vir uitvoer heropen na ’n onderbreking van tien jaar.
Die hawe sal veral ’n strategiese rol speel vir graanuitvoer vanweë die toename in mielieproduksie in die Oos-Kaap, asook die verwagte rekordproduksie van sojabone in die Wes-Vrystaat en Noordwes.
Luidens die nuusbrief is die eerste vrag geelmielies in Junie 2022 vir uitvoer gelaai danksy ’n spanpoging tussen Sacota en sy lede. Die eerste vrag is uitgevoer deur Seaboard.
’n Tweede vrag is in Februarie vanjaar uitgevoer deur die maatskappy Ameropa op die Belsouth-vaartuig. Die heel eerste besending Suid-Afrikaanse witmielies is toe na Guatemala verskeep met 43 600 ton wat gelaai is.
Volgens Sacota is dit verblydend om te sien hoe die doeltreffendheid van die hawe verbeter het sedert die eerste vrag in 2022 gelaai is. Die gemiddelde laaikapasiteit het met ongeveer 3 200 ton per dag vermeerder tot 5 100 ton per dag. Dit is danksy die byvoeging van ’n derde hyskraan tydens die laaiproses en verbeteringe aan die uitlaaigeute by die terminaalsilo. ’n Weegbrug is ook op die perseel aangebring.
Naliya Stamper, bestuurder van die Oos-Londen Transnet-haweterminale, is optimisties dat ’n laaiteiken van 6 000 ton per dag behaal kan word danksy ’n paar verbeteringe. Om dié teiken te verbeter sal die hyskraanstellasie of laaiband wat die graan van die silo na die skip voer, herbou moet word.
Nog ’n ontwikkeling vir die hawe is dat die private maatskappy Traxtion, Afrika se grootste onafhanklike spoorvragmaatskappy, een van Transnet Freight Rail (TFR) se tenders gekry het vir private spoorvrag. Die roete sal hoofsaaklik tussen Kroonstad en Oos-Londen loop, met hoofsaaklik landbouvrag wat vervoer sal word. Sacota en TPT Oos-Londen het reeds met die maatskappy gekommunikeer om van die diens gebruik te maak. Dit is nog nie seker wanneer Traxtion die roete sal begin gebruik nie.
Volgens Sacota is nog twee bykomende uitvoergleuwe vir mielies van dié hawe vir vanjaar bespreek.
Volgens Van der Vyver kan die hawe ook gebruik word vir die invoer van graan, met koring wat reeds ingevoer word.
“Die belangrike vraag is hoe kostedoeltreffend dit kan geskied, veral in die geval van groot volumes, gegewe dat die hawe bykomende investering benodig.”Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.