
’n Herrie is ontketen nadat ’n boer by Kruisrivier in die distrik Uitenhage na bewering verlede week 11 rondloperbeeste geskiet het. Agt van die beeste is dood en drie gewond, waarvan een later deur die DBV uitgesit moes word.
Mnr. Mlibo Qoboshiyana, LUR vir landelike hervorming in die Oos-Kaap, wat van Durban onderweg was na Port Elizabeth om met Agri Oos-Kaap samesprekings te voer, het die vergadering met Agri Oos-Kaap uitgestel om die boer wie se vee in die voorval geskiet is, te besoek.
Qoboshiyana het tydens die besoek daarop aangedring die man verged word vir sy verlies deur die boer wat na bewering die beeste geskiet het.
Vervolging
’n Saak van moedswillige saakbeskadiging (malicious damage of property), asook oortreding van die Dierebeskerming-wet, is aanhangig gemaak. Hoewel die Baaise koerant The Herald die boer geidentifiseer het, het die boer geweier om homself te identifiseer.
Mnr. Douglas Stern, voorsitter van Agri Oos-Kaap, wou nie op die voorval kommentaar lewer nie aangesien die boer wat na bewering betrokke is, nie ’n lid van Agri Oos-Kaap is nie.
Op sosiale media het kommentators mekaar in die hare gevlieg oor die redes wat tot die skietery gelei het. Sommige meen dat dit rassespanning kan verhoog en die vee eerder geskut moes word. Na verneem word, is die beeste geskiet op ’n stuk grond wat van die metro gehuur word.