
Die herverdeling van grond moenie gesien word as ’n vorm van haat wat die Regering teenoor wit mense nie, het pres. Jacob Zuma in sy repliek tot sy staatsrede aangevoer.
Die Regering het sy planne bekend gemaak dat hy nie sal ophou met grondhervorming nie en alles in sy mag sal doen om te verseker dat grond terug besorg word aan die mense aan wie dit behoort.
Die Regering gaan juis nou na ’n manier binne die Grondwet soek om restitusiegrond sonder vergoeding te onteien.
Pre-koloniale oudit van grondeienaarskap
Mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, het by die debat op die staatsrede uitgelig dat ’n pre-koloniale oudit van grondeienaarskap, die gebruik van grond en verblyfpatrone nodig is. Daarna sal ’n enkele wet volg om die kwessie van restitusie sonder vergoeding aan te spreek. Indien nodig, sal grondwetlike wysigings nodig mag wees, het Nkwinti aangedui.
Zuma het gemaan dat die herverdeling van grond nie onwettig gedoen sal word nie en wit mense gevra om op te hou aanvoer dat wanneer oor grond gepraat word, dit uit haat is. “Dit sal wys wees om nie die neiging te misbruik dat wanneer ons oor grond en diegene wat dit besit praat, dit uit haat uit is nie."
Dr. Pieter Groenewald, leier van die VFPlus, het die vorige dag tydens die debat oor die staatsrede pres. Zuma gevra om te sê wat hy teen wit mense het. “Elke keer as iets in die land fout gaan, pak hy die skuld op die wittes van Suid-Afrika. Hy gebruik wittes as ’n rookskerm om sy eie swakhede en onbevoegdhede te verbloem.”
Wil groei en werkskepping sien
Groenewald het ook gesê indien die land wil sien dat ekonomiese groei en werkskepping plaasvind, ’n moratorium op swart ekonomiese SEB en regstellende aksie nodig is.
Zuma het die beskuldiging van die beweerde haat verder verduidelik deur uit te lig dat dit ’n feit is dat massiewe stukke grond steeds deur ’n handjievol besit word. Dit terwyl die groeiende swart bevolking nie genoeg grond het om te bewoon nie.
“Ons verwys nie na die kleur nie, ons beskryf die situasie.” As voorbeeld dat die ANC-regering nie haatdraend teenoor wit mense is nie, het hy gesê dat wit mense saam teen apartheid geveg het. “Hulle was ons kamerade. Ons het saam gewoon.”
Zuma het benadruk dat indien die grondkwessie nie opgelos word nie, ’n plofbare situasie die gevolg kan wees.
Lees ook: 'Regering pleeg verraad teen boere oor veiligheid'