
Ramaphosa het die aankondiging gedoen toe hy die Kaapstadse hawe besoek het. Dié hawe is strategies geleë op een van die besigste internasionale skeepsroetes en is naas Durbanhawe die grootste vraghouerhawe per volume in Suid-Afrika.
Dit is veral belangrik vir die uitvoer van Suid-Afrika se vars vrugte en wyn. “Indien hawedienste ondoeltreffend en duur is of as invoer en uitvoer vertraag word, ly die ekonomie.”
Verswakking van hawe
Die afgelope jare het die prestasie van Suid-Afrikaanse hawens beduidend afgeneem vergeleke met ander hawens wêreldwyd.
Ramaphosa het gesê dit het ’n impak op uitvoer gehad. Dit het Suid-Afrika minder mededingend gemaak en die koste van goedere vir Suid-Afrikaners verhoog.
Oplossing vir hawens
Die oplossing wat die staat bied om die probleme by die land se hawens aan te pak, is om ’n duidelike skeiding te skep tussen die rolle van die eienaar van die infrastruktuur, die Transnet nasionale hawe-owerheid, die terminaalbestuur en Transnet se hawe-terminale.
Die funksionaliteit en regskeiding van hierdie rolle, wat huidiglik afdelings van dieselfde maatskappy bedryf, sal sien dat elkeen nou onafhankliker en doeltreffender bedryf word.
Dit sal beteken dat inkomste gegenereer word deur in die hawens se infrastruktuur te belê, vir die vervanging van ou toerusting en die vernuwing en uitbreiding van die hawens.
Hy het bygevoeg dat die skep van die aparte filiaal die hawe-owerheid sal toelaat om sy eie beleggingsbesluite te neem en sal verseker dat alle terminaaloperateurs regverdig en gelyk behandel word in belang van die hawegebruikers.
Transnet sal die enigste aandeelhouer van die filiaal bly om enige ongunstige impak op die groep se balansstaat te voorkom en te verseker dat die hawe-owerheid ’n belangrike deel van die Transnetgroep bly.
Ramaphosa het in April die Durbanhawe besoek waar hy ’n infrastruktuurontwikkelingsprojek van R100 miljard aangekondig het wat in vennootskap met die private sektor sal toesien dat die kapasiteit van die hawe uitgebrei en dit ook moderniseer word. Hy het later in sy weeklikse nuusbrief gesê dat Transnet beoog om ’n toegewing te adverteer vir die bou en bedryf van die nuwe terminaalpunt. Dit sal private belegging bring en die doeltreffender hantering van houers verseker.