
Me. Brigitte du Preez ontvang vandeesweek haar doktorsgraad van die US se departement voedselwetenskap in die fakulteit landbouwetenskappe. Haar proefskrif is getitel Development of a quality grading system for the honeybush (Cyclopia spp.) tea industry.
Haar studie is deel van die Landbounavorsingsraad (LNR) se navorsing oor heuningbostee, waaraan US-navorsers meewerk. Haar studieleiers was prof. Lizette Joubert van LNR Infruitec-Nietvoorbij en drs. Erika Moelich en Nina Muller van die US.
Du Preez het met haar navorsing ’n stelsel ontwikkel om ’n sensoriese “gehaltestempel” aan verskillende produksielotte toe te ken. Die sensoriese gehalte van heuningbostee, wat die aroma, voorkoms en smaak daarvan in ag neem, is deurslaggewend om tussen gehalte-tee en swak produkte te onderskei, sê sy.
“Heuningbostee het ’n herkenbare blomagtige, appelkoos-, karamel- en fynbos-soet aroma en soet smaak,” sê Du Preez. “Die kenmerkende sensoriese profiel daarvan is gekarteer en kan gebruik word om gehaltegradering van verskillende produksielotte te doen.”
Luidens ’n verklaring van die US het die heuningbosteebedryf die afgelope twee dekades gegroei van ’n plaaslike bedryf tot ’n belanghebbende in die internasionale kruieteebedryf, een van die snelgroeiendste onderafdelings in die sektor vir warm drankies. Mededinging in dié mark is egter straf en en daar is heelwat probleme vir die bedryf om sy markaandeel te vergroot.
“Tot dusver was daar geen gestandaardiseerde maatreëls om die sensoriese aspekte van heuningbostee te beoordeel nie. Kommersiële verwerkers, verpakkers en bemarkers gebruik verskillende maniere om die sensoriese gehalte van heuningbostee te bepaal en oor te dra. Staatsregulasies bevat ook nie spesifieke sensoriese gehaltestandaarde hieroor nie. Tee van wisselende gehalte beland gevolglik op die mark,” lui die verklaring.
Du Preez het ’n vinnige en betroubare gehaltegraderingstelsel ontwikkel met insette van belanghebbendes in die bedryf. Dié stelsel bied ’n wetenskaplik gegronde manier om die sensoriese eienskappe van verskillende teelotte te bepaal en te beskryf.
Du Preez se nuwe graderingstelsel en hulpmiddels vir gehaltebeheer kan nou regdeur die voorsieningsketting gebruik word. Die hulpmiddels sluit in ’n hersiene aromaleksikon en aromawiel wat die kenmerke van heuningbostee en die intensiteit daarvan visueel aandui, asook ’n tellingkaart en ’n kleurverwysingskaart wat in roetine-gehaltebeheer gebruik kan word. Sy het ook twee vinnige metodes vir sensoriese gradering getoets wat gebruik kan word om ’n groot aantal produksielotte van wisselende sensoriese gehalte doeltreffend te beoordeel.
Maatskappye kan Du Preez se sensoriese gehaltebeheermetodes toepas om produksielotte vinnig te beoordeel om sodoende die regte hoeveelhede te bepaal waarin teelotte van verskillende gehalteklasse gemeng word. Dit is ook van nut vir navorsers wat heuningbosplantteling gemoeid is.
Die aromaverwysingstandaarde kan teeverwerkers en bemarkers help om heuningbos se sensoriese woordeskat (soos “fynbos-blomagtig”) en die terminologie vir ongewenste smake daarvan soos “medisinaal” en “rookagtig” beter te begryp. Dit kan hulle help om ondubbelsinnig met gestandaardiseerde begrippe oor heuningbos te kommunikeer en die roetine-sensoriese gehaltebeheerproses vereenvoudig.
Die nuwe stelsel en hulpmiddels kan as vertrekpunt dien vir beheerregulasies vir sertifisering en uitvoerbeheermaatreëls.
Du Preez meen sensoriese gehaltebeheer is van sleutelbelang om die volhoubare groei van die bedryf te verseker. “Dit is ook nodig om te verseker dat goeie teegehalte nie ingeboet word met die teel van plantmateriaal as deel van navorsing nie.
“Namate die aanvraag na heuningbostee toeneem, moet alle produksielotte aan die beste gehaltestandaarde voldoen. Net gehalte-teelotte behoort die mark te bereik,” sê sy.
Die Wes-Kaapse departement van landbou het die navorsing gefinansier met die samewerking van die Suid-Afrikaanse Heuningbostee-vereniging en die departement van wetenskap en innovasie.