
Hoewel die Landbounavorsingsraad (LNR) oor die afgelope eeu in die een of ander vorm ’n sleutelrol gespeel het in die opbou en ontwikkeling van die kommersiële landbou in Suid-Afrika, kon dié instelling kwalik ’n impak op grondhervorming maak, sê dr. Yolisa Pakela-Jezile, hoof van die LNR se afdeling vir tropiese en subtropiese gewasse in Mpumalanga.
Sy skryf dit grootliks toe aan twee faktore, naamlik die manier waarop staatsinstellings soos die LNR gestruktureer is en die manier waarop die staat eienaarskap van begunstigdes van grondhervorming en restitusie weerhou het oor die jare.
“Ek het in die 15 jaar dat ek vir die LNR werk, baie hard probeer om dieselfde doeltreffendheid waarmee ons die kommersiële landbou kon bystaan, ook op grondhervorming toe te pas, maar ons sukseskoers was minder as 10%.
“In my soeke na die oorsaak van ons mislukkings het ek besef staatsinstellings is gestruktureer om teen mekaar mee te ding en boonop is ons begrotings elke jaar besnoei.”
Sy sê die beleid oor grondeienaarskap in kommunale gebiede maak dit moeilik vir kommunale boere. Hulle het geen sekuriteit waarteen hulle landboulenings kan aangaan nie en daarom bly hulle vasgevang in hul situasie.
Pakela-Jezile sê daarom het sy ingestem om in die direksie van die nuwe Mpumalanga-tak van die Partners in Agri Land Solutions (PALS) te dien. “Miskien gaan ons meer regkry as ons met mense saamwerk wat boerdery en die landbou verstaan.“Ons is wetenskaplikes, maar PALS kan ons help om wetenskap vir gewone boere toeganklik en verstaanbaar te maak. Min opkomende boere besef die landbou is wetenskap.”
Die PALS-raamwerk steun swaar op opleiding, regverdige kontrakte en die beginsel van eienaarskap vir opkomende boere. Pakela-Jezile sê dit is veral in die fynere beginsels van besigheid dat opkomende boere opleiding en hulp nodig het. “Hulle weet byvoorbeeld nie hoe om te onderhandel met inset- en kredietverskaffers nie en baie min van hierdie boere kan die bankvorms reg invul wanneer hulle aansoek moet doen om lenings.”
Sy glo met PALS kan opkomende boere opgelei word in alle fasette van besigheid, wat hulle baie kan help om uiteindelik kommersiële boere te word.