Die berig in die Sondagkoerant skets ’n toneel wat ’n mens in ’n aksiefliek uit die 1990’s verwag. ’n Klein dorpie iewers in die berge, waar ’n misdaadbaas se rampokkerbende die dorpenaars in Pablo Escobar-styl met intimidasie en geweld teister en vat wat hulle wil hê, terwyl die plaaslike polisie hande gevou toekyk.
Dit is egter op die toeristedorpie Graskop in Mpumalanga waar die bende swaargewapende rowers in die oggendure van Sondag 30 April die dorp se toegangsroetes versper, by winkels ingebreek en kluise met plofstof oopgeskiet het, terwyl hul makkers deur die strate gejaag en skote met AK47’s, R4’s en pistole afgevuur het.
Die plaaslike polisie het glo nie ’n vinger verroer nie. Inwoners van Graskop sê dieselfde bende teister hulle al die afgelope twee jaar en klagtes by die polisie val op dowe ore. Daarom het hulle die polisiekantoor se hek met ’n ketting en slot gesluit met die boodskap dat die stasiebevelvoerder moet trap.