
Die redes vir die toestroming van mense na die Wes-Kaap vanaf elders in Suid-Afrika, veral die Oos-Kaap, is polities sensitief. Dié aspek word liefs vermy wanneer die erge waterkrisis waaronder die Wes-Kaap gebuk gaan, bespreek word.
Met miljoene meer mense as net ’n dekade gelede wat ’n tuiste in dié provinsie kom soek en met minimale beleggings in nuwe wateropbergingsgeriewe oor die jare, is dit geen wonder nie dat die Wes-Kaap deur erge watertekorte in die gesig gestaar word ná byna drie jaar van onder gemiddelde reënval.
Blyplek vir almal
Infrastruktuur, veral in die kleiner dorpe in die vrugte- en wynproduserende streke, steier ook onder die toevloei van mense namate die belofte van seisoenswerk migrasie aanwakker. Wynboer Peter de Wet skryf in die huidige uitgawe van Landbouweekblad hoe die Wet op die Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg meebring dat behuising boere se probleem raak, juis weens ’n knaende tekort aan munisipale behuising.
As iemand deesdae van ’n plaas gesit word, al werk hulle nie meer daar nie, is dit byna seker hulle gaan nie elders ’n blyplek kry nie. Dus is sulke uitsettings uiters problematies — nie net vir die mens wat sonder verblyf sit nie, maar ook vir die boer wat nie blyplek aan sy werkers kan voorsien nie omdat sy behuising deur ander werkers se nasate beset word.
Mense se omstandighede moet verbeter word daar waar hulle woon, soos in Oos-Kaap se groot voormalige tuislande. Dié gebiede het enorme landboupotensiaal, veral in die ooste van die voormalige Transkei. Daar is hoë reënval en vrugbare grond, maar byna geen noemenswaardige landbouproduksie vind daar plaas nie.
Belowende stap
In dié opsig is die onlangse bekendstelling van die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming se konsepwetgewing oor kommunale verblyfreg, wat nou vir openbare kommentaar beskikbaar is, ’n beduidende stap in die regte rigting.
Die voorgestelde wetgewing maak vir die eerste keer voorsiening vir die oordrag van grondeienaarskap in kommunale gebiede, al word dit aan ’n gemeenskap in geheel oorgedra. Sulke gemeenskappe sal nou, met ’n meerderheidstem van 60%, kan bepaal hoe grondeienaarskap sal lyk.
Hulle kan besluit of dit ’n vorm van huurpag sal wees, of volwaardige eienaarskap sal skep. Dit sal sulke eiendomme verhandelbaar maak en dus as sekuriteit vir finanisering kan dien. Hierdie nuwe benadering verwater natuurlik die byna feodale magte wat tradisionele leiers in die tuislande geniet, en groot teenkanting kan nog uit dié oord verwag word.
Kommunale gebiede
Die nuwe voorgestelde wetgewing sal egter ook op grondhervormingsplase en restitusiegrond van toepassing sal wees. Voorsiening word ook gemaak dat die minister meer grond kan bekom om die kommunale gebiede doeltreffend uit te brei.
Hoekom ’n mens die ingewikkelde probleem van kommunale grondbesit só sal wil vererger, weet nugter alleen. Dit sal nie net die vermoë om produktiewe landbougrond sinvol te bewerk en dus werk en waarde te skep, wegkalwe nie, maar takel ook nie die kernprobleem van kommunale grondbesit nie.
Suid-Afrika se grond is ’n nasionale bate en mense moet ’n volwaardige bestaan daaruit kan maak. Tot dit gebeur, sal die toestroming van mense na gebiede waar grond wel gebruik word om waarde en werk te skep, helaas voortduur.
* Chris Burgess is redakteur van Landbouweekblad. Hierdie is sy redakteursbrief in LBW van 28 Julie.