
Theunissen, wat op TLU SA se jaarkongres in Pretoria gepraat het oor wat boere moet doen om vir optimale wins te boer, sê dit is soos om ’n bewegende teiken te probeer raakskiet. “Daar is net te veel faktore wat elke seisoen verander om te verseker dat ’n boer die kol gereeld kan tref.”
Ter illustrasie van dié wisselvalligheid het hy gesê in die Oos-Vrystaat in 2016 is daar van ’n verlies van R706/ha gespring na ’n wins van R1 500/ha die volgende jaar. Van die produkte wat daar verbou word, soos koring, aartappels en suikerbone, was die winsgewendheid baie wisselvallig. Mielies en skaapboerdery was die enigste vertakkinge wat elke jaar winsgewend was terwyl sonneblomme, sojabone en beesboerdery ook elke jaar, behalwe ’n jaar of twee, winsgewend was.
Prys en wins
Hy het gesê prys is een van die grootste aandrywers van wins maar oor die afgelope 100 jaar het landbouprodukte se pryse wêreldwyd met gemiddeld 1% per jaar gedaal, ondanks die groei in die wêreldbevolking. Boere is prysnemers en moet voortdurend produksie verhoog om kop bo water te hou.
Theunissen het gesê die produksietyd van 1 ton mielies was in 1850 vier dae, met ’n enkelskaarploeg, eg en saai met die hand. In 1930 was die werkstyd per ton een dag, in 1990 1 uur en 10 minute en in 2016 net 12 minute.
“Die voortdurende verbetering in tegnologie, genetiese materiaal en bewerkingspraktyke stel boere in staat om deurgaans al goedkoper vir al meer mense met dieselfde produksiefaktore kos te gee en steeds ’n wins te maak.”
Hy sê die toenemende styging in produktiwiteit, wat uit vernuwing en nuwe tegnologie voortspruit, is uiteindelik die bron wat ekonomiese groei in landbou meebring. “Die rede hoekom boere al goedkoper vir al meer mense kos kan gee, is omdat hulle aanhoudend beter boer.”
Optimale wins is nie ’n vaste bereikbare punt nie, maar eerder ’n teiken wat telkens sy afstand tussen hom en die skut sal bly handhaaf, het Theunissen gesê.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.