
Hoewel projekte vir droogtehulp sedertdien wyd uitgekring het, en die vraag tans baie groter is as die aanbod, glo mnr. Naudé Pienaar assistent-hoofbestuurder by Agri Noordwes, die einde van skenkings is nie in sig nie. “Dit maak nie ekonomies sin om vir ’n groep boere argumentsonthalwe R40 000 se voer te stuur nie, maar jy kan nooit die emosionele impak van die hoop van ’n paar bale voer vir jou 20 of 30 beeste onderskat nie.”
Pienaar sê hoewel daar tans, weens die wye impak van die droogtetoestande, ’n groot tekort aan ruvoer bestaan, sal hulle voortgaan om hulp vir boere te reël solank as wat hulle kan.
Sedert einde verlede jaar verteenwoordig Pienaar Agri SA as deel van ’n groep organisasies wat landwyd pogings aanwend om hulp vir veral veeboere te reël. Die organisasies wat saamwerk, is Agri SA, die Save the Sheep-projek van Sutherland, Gift of the Givers en Caring Daisies.
Die organisasies het besluit om met mekaar saam te werk om droogteskenkings beter te koördineer en die beskikbare geld optimaal aan te wend.
Pienaar bedank die verskeie instellings wat die projek moontlik maak, soos mnr. Henk van Wyk van Hendrik van Wyk-vervoer en Total SA wat hulle al mildelik ondersteun het met skenkings van vervoer en brandstof onderskeidelik.
Voer by koöperasies
Me. Lynette du Plessis, droogtehulpkoördineerder by TLU SA, sê hulle bied sedert 2016 hulp aan boere, veral binne boere-unies.
Sy sê die organisasie is betrokke by pogings waar veevoer vervoer word na gebiede waar dit droog is. “Waar die vervoerkoste hoog word, kyk ons na alternatiewe soos om voerpille aan te koop by ’n koöperasie binne reikafstand om sodoende meer waarde vir geld te verkry. Verder word ruim gebruik gemaak van skenkings van voer en kontant. Hierdie hulp is daarop gemik om alle boere wat ’n behoefte het, te help.”
Genl.maj. Chris van Zyl, assistent-hoofbestuurder van TLU SA, sê die organisasie se dagbestuur bespreek binnekort onder meer langtermynmodelle ten opsigte van alternatiewe finansieringsopsies en opsies om volhoubaarheid te help bevorder.
Enigeen wat hulp wil verleen, kan Pienaar by tel. 018 632 3612, e-pos wanda@agrinw.co.za of Du Plessis by tel. 012 804 8031, e-pos fin@tlu.co.za kontak.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.