
Hoewel menige boere graag hulle werkers meer wil betaal, is dit nie altyd bekostigbaar nie, gegewe die vlakke van produktiwiteit van die gemiddelde plaaswerker. Daar is ook nie ’n omgewing vir die landbou om in te floreer nie, meen Vrystaat Landbou.
Die Regering ondersoek tans die moontlikheid om ’n nasionale minimumloon in te stel as een van die meganismes om ongelykheid in inkomste te beperk. Die landbousektor werk al reeds die afgelope 11 jaar met ’n sektorale vasstelling. Die vakverbond Cosatu het onlangs voorstelle gemaak vir ’n minimumloon van tussen R4 500 en R6 000 per maand.
Vrystaat Landbou het uitgewys dat boere na die laaste verhoging van die minimumloon met 52% gedwing is om werkers af te dank. Dit het ’n afskaling van 13% tot gevolg gehad, met sowat 79 000 poste wat verlore gegaan het.
Om armoede uit te wis en werk binne die landbou te skep, sal die Regering ’n gunstige omgewing vir die sektor moet skep. Na die styging van die minimimloon in die sektor in 2013 het byna 2 000 boere om kwytskelding daarvan aansoek gedoen. “ ’n Hoër minimumloon as die huidige een kan tot verdere grootskaalse werksverliese lei.”
Mnr. Peter Montalto, ’n ekonoom van die Nomura-groep, sê hoewel ’n nasionale minimumloon moontlik eers na die 2019-verkiesing ingestel gaan word, moet daar nou al sterk standpunt teen hierdie potensiële vernietigende beleid ingeneem word.
’n Analise van Montalto toon dat ’n minimumloon van rondom R2 500 per maand maklik ingestel kan word, sonder dat die ekonomie verwring word. Hy sê Cosatu se minimumloonvoorstelle sal ’n noemenswaardige uitwerking hê op ’n baie groter deel van die privaatsektor en baie meer werkers.
Om ’n minimumloon vêr bo die verrekeningstarief te stel sal baie meer ongeskoolde werkers uit die arbeidsmag sluit en besighede sal dan eerder fokus op hoër lone vir arbeiders met vaardighede, as op tegnologiese vervanging.