
Plaaslike graanboere moet hulself staal vir die nuwe produksieseisoen wat na verwagting aansienlik gunstiger sal verloop, maar teen laer prysvlakke vir kommoditeite.
Dr. Herman van Schalkwyk, hoof uitvoerende beampte van die Suidwes Groep, het op ’n galageleentheid van die Angus-beestelersgenootskap in Bloemfontein gesê die landboubedryf sal oor die kort tot medium termyn onder druk bly en die huidige hoë pryse van graan weens die droogte sal noodgedwonge deur normale vlakke opgevolg word.
“Die normale vlakke word deur ekonomiese beginsels soos die vraag na basiese kommoditeite wat laag sal bly en die ekonomie wat as gevolg daarvan futloos is,” sê hy. “Die ekonomie groei steeds, maar nie teen dieselfde koers as vantevore nie. Ons beleef nie ’n resessie nie en die ekonomie sal gaandeweg verbeter.”
Volgens Van Schalkwyk sal die prys van kommoditeite daarna stadig klim, maar weliswaar nie teen die vlakke van die afgelope tyd nie.
Stygende inkomste
Die stygende inkomste van die wêreldbevolking veroorsaak dat verbruikers hulle diëte aanpas deur meer diereprodukte in verhouding tot stysel te gebruik. Dit bring mee dat die pryse vir vleis en suiwelprodukte relatief tot die prys van gewasse hoog sal bly. Wat gewasse betref, sal die prys van graan en oliesaad wat vir veevoere gebruik word, betreklik meer styg as dié van stapelvoedsel.
Hy sê egter faktore soos die nasionale en internasionale politiek kan sake drasties verander. “ ’n Verhoging in die vraag na basiese kommoditeite sal sorg vir ’n oplewing in internasionale markte wat weer die landbou sal bevoordeel,” sê hy. “Oor die lang termyn is dit veral die vraag na energie wat landbou ’n goeie hupstoot kan gee.”
Hy maan egter dat Suid-Afrika veral sy politieke huis in orde moet kry en dat die belegging in navorsing dringend nodig is.