
Dit is een van die bevindings in ’n studie in opdrag van die vennootskapsprojek vir groei tussen die Europese Unie (EU) en Suid-Afrika.
In die studie, gefinansier deur die EU, het mnr. Mike de Klerk, onafhanklike ekonoom vir DNA Economics, bevind dat tariefaansoeke waarskynlik altyd gunstig oorweeg sal word in ’n land met uitsonderlik hoë vlakke van werkloosheid en ’n goed georganiseerde werkmag wat die regering ondersteun.
De Klerk het sy bevindings op ’n geleentheid by die Nederlandse ambassade in Pretoria aan onder meer verteenwoordigers van die pluimvee- en in- en uitvoerbedryf toegelig.
Hy het gesê produsente skryf hul gebrek aan belegging in die uitbreiding van produksievermoë die afgelope dekade toe aan onbillike mededinging en stygende koste van produksiemiddele, maar hy het gevind dat groot produsente ’n goeie opbrengs op hul belegging behaal.
Volgens hom kan die bedryf se stadige groei en min uitvoer nie aan onbillike mededinging of siektes soos voëlgriep en Newcastle-siekte toegeskryf word nie.
Suid-Afrikaanse produsente is doeltreffend vergeleke met oorsese produsente en word meestal slegs deur Brasilië en Amerika geklop.
De Klerk het gesê ’n moontlike groeistrategie, wat nie van hoër invoertariewe en hoër verbruikerspryse afhanklik is nie, is om borsvleis na die EU uit te voer, omdat dié snit hoë pryse daar behaal en Suid-Afrika nie invoertariewe hoef te betaal nie.
Suid-Afrikaanse produsente se toevoeging van pekelwater tot hoendersnitte en veral die feit dat die land nie aan die EU se sanitêre en fitosanitêre vereistes voldoen nie, is egter struikelblokke.
“Die bedryf sal waarskynlik die voortou moet neem en die meeste van die koste moet dra om aan die EU se sanitêre en fitosanitêre vereistes te kan voldoen. In beginsel behoort die departement van landbou dit te doen, maar die departement erken dat hy kapasiteitsbeperkinge het.
“As die Suid-Afrikaanse hoenderbedryf witvleis wil uitvoer, sal hy waarskynlik soos die vark- en volstruisbedryf ’n openbare-private-vennootskap met die departement moet sluit.”
Die EU het volgens De Klerk ’n program om Suid-Afrika te help om aan die vereistes te voldoen.
Dr. Jack Vera, landbouraadgewer by die Nederlandse ambassade, het egter gesê die regering het tot dusver geen ag geslaan wanneer hulle hul kundigheid aangebied het nie. “Ons wil hê Suid-Afrika moet groei deur in staat te wees om na ander lande, soos EU-lande, te kan uitvoer,” het Vera gesê.
Die deelname van Astral, die land se grootste produsent, is volgens De Klerk noodsaaklik, maar hy is onseker of Astral wel wil deelneem.
Niks nuut nie
Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV) en die teenstortingsbeweging FairPlay het die verslag gekritiseer.
Mnr. Aziz Sulliman, voorsitter van die SAPV, het gesê dit bied geen nuwe insigte of oplossings vir die kernprobleem van storting nie. Hoenderprodusente moet verseker wees dat hulle steeds ’n mark gaan hê voordat hulle in infrastruktuur belê.
Mnr. Francois Baird, stigter van FairPlay, het gesê uitvoer is nie nou die kwessie nie, maar eerder om toestande te skep waarin die bedryf ’n deel kan terugwen van die 27%-markaandeel wat hy deur invoer, ten koste van duisende werkgeleenthede, verloor het.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.