
Die AA verwag dat verbruikers, wat reeds onder prysdruk gebuk gaan, nie bereid sal wees om hoër pryse vir buitebande te betaal nie. Gevolglik sal hulle aanhou om bande te gebruik wat in ’n swak toestand is.
Die departement van handel, nywerheid en mededinging het vroeër vandeesmaand aangekondig dat ’n verdere aksynsbelasting van 38,33% op ingevoerde bande vanaf China gehef sal word ten einde storting te verhinder. Dié heffing sal tot Maart volgende jaar geld.
Bykans die helfte van die buitebande in Suid-Afrika word van China ingevoer. Aksynsbelasting van 25% tot 30% word reeds op dié bande gehef. Indien die addisionele aksynsbelasting daarby gevoeg word, beteken dit dat aksynsbelasting van 63,33% tot 68,33% gehef sal word op bande wat plaaslik verkoop word.
Die Suid-Afrikaanse Bandevervaardigerskonferensie, wat die bandevervaardigers Goodyear, Bridgestone, Sumitomo en Continental verteenwoordig, het die aankondiging verwelkom.
Die bande-invoerdersvereniging van Suid-Afrika (Tiasa) het aangedui dat selfs plaaslike vervaardigers tot 80% van die buiteband-modelle wat hulle verkoop, invoer. Tiasa bevraagteken die beweegrede vir die addisionele heffing.
Te midde van dié struweling oor die addisionele heffing, meen die AA dat daar geen twyfel kan wees nie dat dit uiteindelik verbruikers sal wees wat die finansiële las van die departement se besluit sal moet dra.
“Hoër brandstofpryse het voedselpryse opgestoot en gelei tot hoër private en openbare vervoerkoste. Diegene met private vervoer sal nou meer vir bande, noodsaaklike toerusting op voertuie, moet betaal. Ons glo nie dat dit sal gebeur nie. Openbare vervoerverskaffers soos busse en minibustaxi’s sal ook nie die nuwe pryse wil betaal nie en eenvoudig die verhogings van hul passasiers verhaal. Albei hierdie opsies is onaanvaarbaar.”
Volgens die AA het gladde bande en bande wat gebars het, bygedra tot 49% van die 12 541 mense wat verlede jaar op Suid-Afrikaanse paaie gesterf het.
“Bande is noodsaaklike veiligheidstoerusting en ons raai mense altyd aan om hul bande gereeld te laat nagaan en te vervang indien nodig. Ons raai hulle ook aan om vir hierdie uitgawe te begroot. Die realiteit is dat die nuwe pryse die vervangingskoste van bande aansienlik sal verhoog en verskeie motoriste sal dwing om met bande te bestuur wat hulle eintlik nie moet gebruik nie. Ons glo daar gaan ’n skerp toename gesien word in bande wat bars.”
Die AA versoek dus dat die besluit oor die addisionele aksynsbelasting hersien word. “Die regering se bandering behoort ten gunste van werkskepping en ’n volhoubare ekonomie te wees, en gesteun word strenger maatreëls om korrupsie hok te slaan en die doeltreffende toewysing van geld te verseker.
“Ons is van mening dat die kwessies rondom bandpryse die gevolg is van dieper kwessies wat die bestuur van Suid-Afrika se ekonomie betref, en verbruikers word weer gevra om dié las te dra. Die regering behoort die instelling van addisionele aksynsbelasting onmiddellik terug te trek en ’n beter, meer volhoubare oplossing vir die probleem te vind wat nié ’n ongunstige impak op verbruikers het nie.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.