
Mnr. Chris van Beljon, stigter van Boere Droogtehulp SA NPC, sê die styging in brandstofpryse sal waarskynlik tot gevolg hê dat ’n vrag of selfs twee minder, veral voer, per maand na boere in droogtegeteisterde gebiede vervoer sal kan word – moontlik meer. “Die skenkers wat ons help se sak word ook geraak weens die styging in pryse, so hulle sal ook minder kan gee.”
Me. Sybil Visagie van Save the Sheep sê dié organisasie het onlangs ’n informele opname gedoen om die effek van die droogte, wat tans in sy negende jaar is, op boere in die Noord-Kaap te bepaal. “Die syfers is kommerwekkend. Na raming is die oorgrote meerderheid van die boere in die droogtegeteisterde gebiede se situasie kritiek.
“Die slagpryse van vee het opwaarts geneig vanaf Maart tot Augustus, maar het weer afwaarts geneig tot op datum. Skaapproduksie in die droogtegeteisterde gebiede is tans so laag as 30% van normale produksie op plase en wolproduksie het dieselfde vertoon.”
Sy sê die nuutste verhoging van brandstofpryse sal ’n prysverhoging van tot 10% tot gevolg hê op die vervoer van voer. “Die vervoer van voer na boere in nood is ons grootste uitgawe. Save the Sheep se vervoeruitgawe vir die vorige finansiële jaar het meer as R2 miljoen beloop. ’n Verdere 10% verhoging op vervoer hou katastrofiese gevolge in vir boere wat afhanklik is van voer wat afgelaai moet word om hulle in produksie te hou.”
Mnr. Pieter du Plessis van SA for Hope, sê om voerskenkings oor lang afstande te vervoer kos tans tussen R4 500 tot R6 000 afhangende van die afstand. Waar voer aangekoop word, sal die hoeveelheid ná die styging in brandstofpryse verminder moet word om voorsiening te maak vir die vervoerkoste daarvan. “Ons sal nou alles uit die hoed moet trek om skenkings vol te hou. Of die vervoer, of die mielies sal geskenk moet word.”
Du Plessis sê hulle besef hoër brandstofpryse het ook ’n impak op die maatskappye wat aanbied om hulle met vervoer te help. “Hulle bied die vervoer gratis vir ons aan. Nou moet daar ’n ekstra geld uit sy sak ook kom.
“Ons maak ook gebruik van vrywilligers wat hul eie brandstof betaal om skenkings te vervoer. Die koste van brandstof dwing ons om uitreike nader aan die huis te onderneem, want die vrywilligers se onkostes moet ook in ag geneem word. Daar kan nie meer druk op hulle geplaas word nie, want hoe meer druk jy op hulle plaas om verder uit te reik, hoe minder vrywilligers sal daar wees. Ons kan nie bekostig om vrywilligers te verloor nie. Hulle is die hartklop van ons organisasie.”
Hy sê dit raak moeilik om uitreike te organiseer omdat dit benewens vervoerkostes ook reiskostes eis. “Dit gaan ons egter nie laat terugsit nie. Ons het ’n goeie span ondersteuners en elkeen wat by SA for Hope betrokke is, se hart is reg. Ons sal nie toelaat dat die brandstofprys ons onder kry nie. Ons sal net fyn moet beplan sodat ons kan aanhou doen wat ons doen, want daar is mense wat ons nodig het.”