Die kragtariefverhoging van 25,8% wat Vrydag (1 April) begin, gaan die landbousektor ’n bykomende R344 miljoen kos. Mnr. Dawie Maree, ekonoom vir Agri SA, sê oor die algemeen maak elektrisiteitskoste 2% van produksiekoste uit. Vir besproeiingsboere verhoog dit egter tot ongeveer 25%, dus na gelang van die boer se bedryfsfokus gaan die impak op die boer se sak verskil.
Die Nasionale Energiereguleerder vir Suid-Afrika (Nersa) het in Februarie bekend gemaak dat kragtariewe oor ’n tydperk van drie jaar, jaarliks met sowat 25% gaan styg. Die styging wat verlede jaar ingestel is, was 24,8%. Die verhogings wat vir vanjaar en volgende jaar goedgekeur is, is 25,8% en 25,9% onderskeidelik.
Algehele verhogings vir landbou
Maree sê die algehele kragprysverhogings vir die bedryf sedert 2009 is 39%, volgens die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye se syfers.
Hy sê die moontlikheid bestaan dat sommige boere nie vanjaar se styging gaan oorleef nie. “Dit moet ook in die lig gesien word van die stygings in ander produksiekoste, soos brandstof, terwyl produkpryse nie in dieselfde mate styg nie, indien enigsins. Dit sal natuurlik ook baie ongunstig wees vir die vloedgeteisterde boere in byvoorbeeld die Noord-Kaap,” vertel Maree.
Bitter duur flater
Intussen berig News24.com dat Eskom ’n flater van sowat R3 miljard begaan het. Dít volg ná die massiewe ontploffing by die Duvha-kragstasie buite Witbank verlede maand. Die ontploffing het ’n turbine by die kragstasie vernietig, groot skade veroorsaak en onmiddellik 600 megawatt krag uit die land se stelsels verwyder.
Volgens die berig kan die voorval aan ’n menslike fout of ’n tekort aan personeel toegeskryf word, aangesien dit tydens ’n roetine ondersoek gebeur het. Eskom ondersoek tans of die beheerkamer van die stasie onbeman was toe veiligheidsmeganismes nie tydens ’n toets wou aanskakel nie.
Bron: News24
29 Maart 2011