
Die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) se aankondiging dat die rentekoers vir die eerste keer in drie jaar styg, van 3,5% tot 3,75%, sal volgens mnr. Paul Makube, senior ekonoom van FNB Agribesigheid, boere se winsmarges onder verdere druk plaas ten spyte van die goeie somerseisoen wat verwag word.
Benewens die verhoogde rentekoers voorspel die SARB dat verdere verhogings van ’n kummulatiewe 300 basispunte in die volgende drie jaar sal plaasvind.
Makube sê hoewel die verhoging van die rentekoers ’n teken is dat die plaaslike ekonomie herstel danksy onder meer veerkragtige uitvoer en ’n groter terugkeer na ekonomiese aktiwiteite, dui die gevolge van die hoër rentekoers daarop dat harde tye vir boere in die komende maande voorlê.
“Rekordlae rente het die afgelope jaar vir boere ’n blaaskans gebied en hulle toegelaat om masjinerie en toerusting te vervang en aan te vul. Sover was trekker- en stroperverkope vir die jaar tot einde Oktober onderskeidelik 6% en 33% beter as verlede jaar se vlakke, wat ’n teken van sterk optimisme vir die landbousektor se vooruitsig was.
“Met internasionale kunsmispryse wat in Oktober met 80% tot 150% op ’n jaargrondslag gestyg het, tesame met geen einde aan die globale logistieke krisis op kort tot mediumtermyn nie, verwag ons verdere druk op insetkoste vir veldgewasse en die tuinboubedryf.
“Hoewel sterk kommoditeitspryse die impak van hierdie druk effens verreken het, sal die diens van hoër skuldkoste op medium- tot lang termyn marges verdun indien die voorspelde verhogings van rentekoerse oor die volgende drie jaar realiseer.”