
Ten spyte daarvan dat die 2021-’22-landbouseisoen goed begin het met aanduidings dat nog ’n uitstekende seisoen verwag kan word, sal hoër skuldkoste ’n probleem vir die sektor wees nadat die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) gister die repokoers met 25 persentasiepunte verhoog het. As gevolg daarvan is die prima uitleenkoers nou 7,5%.
Mnr. Paul Makube, senior landbou-ekonoom van FNB Agribesigheid, sê verdere verhogings van 125 persentasiepunte word tot 2023 verwag. Die hoër koste om skuld te delg sal gevolglik winsmarges in die landbousektor wegvreet. Saam met stygende insetkoste kan dit vir boere probleme skep.
Boere het egter danksy die vorige rekordlae rentekoers die geleentheid gehad om die nodige vervanging en aanvulling van masjinerie en toerusting te doen. Die totale trekker- en stroperverkope vir 2021 het met onderskeidelik 26,4% en 44,9% op ’n jaargrondslag gestyg.
’n Verdere demper op wat veronderstel is om ’n uitstekende landbouseisoen te wees, is die seisoenale reën weens die La Niña-verskynsel wat vloede, skade en ’n vertraging met aanplantings veroorsaak het.
Makube sê die nuutste oesskatting dui op wisselvalligheid met die aanplanting van somergewasse. Voorlopige skattings dui op ’n inkrimping van 5% op ’n jaargrondslag tot 2,61 miljoen ha in die oppervlakte onder mielies, Suid-Afrika se grootste gewas.
“Hoewel dit nog vroeg is, kan hierdie oppervlakte ’n oes van 15,3 miljoen ton lewer, wat vir Suid-Afrika genoeg sal wees gegewe die groot oordragvoorraad. Die aanplanting van sonneblomme en sojabone het op ’n jaargrondslag met onderskeidelik 21% en 10% toegeneem.”
Kommoditeitspryse bly relatief sterk en behoort die kostedruk op die sektor ietwat te verreken. “Ons hoop vir ’n paar weke se sonskyn sodat die gewasse kan herstel en steeds ’n goeie oes kan lewer. Dit sal lei tot ’n beter landbouseisoen en help om voedselinflasiedruk te beperk.”